Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Fox Terrier genaamd Lulu het bo-op haar drie dae oue babahondjies gelê terwyl die huis waarin sy was, aan die brand geslaan het.
Die brand het op Donderdagoggend, 30 Junie in 'n gedeelte van die woning van Casper en Rika le Grange in Proteastraat op Danabaai uitgebreek.
Dit was Casper se verjaarsdag en hy en Rika het buite met bure gesels toe sy rook by die huis sien uitborrel.
"Dit was ligte rook en ek en Casper is binnetoe om te sien wat aangaan."
Die brand het in die voorste slaapkamer begin. Hoewel die Le Granges en hul bure dit met water probeer blus het, het die brand binne sekondes vererger. Rika sê alles was pikdonker van die rook en Casper moes voel-voel sy pad teen die huis se mure vind.
Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdienste is ontbied en Casper en Rika het dadelik vir hulle gesê dat Lulu nog in die huis met haar babahondjies vasgekeer is.
"Hulle het Lulu en haar twee hondjies uitgedra. Lulu het egter brandwonde opgedoen," sê Rika.
Die twee hondjies het nie seergekry nie en word tans deur 'n vriendin van die Le Granges versorg. "Hulle moet gereeld melk kry." Lulu was teen die ter perse gaan steeds by 'n veearts waar sy vir haar beserings behandel word.
"Ons is net dankbaar dat niemand seergekry het nie."
Die Le Granges bedank die brandbestryders vir alles wat hulle vir die gesin gedoen het asook die Mosselbaai-gemeenskap wat hulle deur hierdie tyd ondersteun.
Vorige artikel: Huisbrand op Danabaai geblus
Die huis soos die na die brand gelyk het.
Groot skade is aan die huis tydens die brand aangerig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'