Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse AJ Sportweek is in die Maart skoolvakansie deur Hoërskool Punt aangebied.
Skole van heinde en verre het aan hierdie spoggeleentheid kom deelneem.
Netbal
Hoërskool Punt se eerste netbalspan kompeteer in 12 wedstryde. Hulle wen nege van hul wedstryde en verloor slegs drie. Op die finale dag speel hulle vir vierde en vyfde plek uit teen Hoërskool Dirkie Uys en wen 19-16 om vierde uit 20 skole te eindig.
Hokkie
Die hokkiemanne het die toernooi met baie ywer aangepak. Hulle wen al vyf van hulle wedstryde. Die seuns teken 28 doele aan en daar word slegs twee doele teen hulle aangeteken. Teen finale tyd in die semi-finaal was die tellings steeds gelyk. Die seuns wen die penalty shoot-out en beweeg aan na die finaal, waar hulle gedurende nog 'n uitskietronde teen Curro Langebaan verloor en eindig tweede in die toernooi.
FOTOGALERY - Hoërskool Punt AJ Sportweek
Die o/19A-hokkiemeisies het ook nie teleurgestel nie deur al 11 hul wedstryde te wen en as wenners van die meisiespanne van die toernooi te eindig. Daar is 30 doele deur hierdie onoorwonne span aangeteken en slegs twee doele teen hulle aangeteken.
Hierdie span spog ook met Anika Otto – die meisiespeler van die toernooi, asook die meisie wat die meeste doele gedurende die toernooi aangeteken het.
Hoërskool Punt se o/19B-hokkiemeisies het ook aan die AJ Sportweek deelgeneem. As die enigste B-span wat aan die toernooi deelgeneem het, het hulle hulself goed van hul taak gekwyt. Aan die einde van dag een lê die meisies derde en aan die einde van dag twee lê hulle vierde. Hierdie span eindig die toernooi in die agste posisie.
Rugby
Altesaam drie rugbyspanne van Hoërskool Punt het deelgeneem. Die eerste rugbyspan wen twee uit hul drie wedstryde, met 'n uitstekende telling van 50-7 teen HTS Middelburg op die laaste dag.
Die o/19B-span het aan drie wedstryde deelgeneem en het die toernooi onoorwonne afgesluit met baie goeie tellings. Die o/16A-span het ook deelgeneem. Hulle het gemengde uitslae behaal met een wen, een verloor en een gelyk telling.
Na hierdie toernooi se goeie uitslae heers daar groot opwinding oor die komende sportseisoen vir die Visse.
Die eerste netbalspan.
Die seuns eerste hokkiespan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'