MOSSELBAAI NUUS - Die gebruik van hommeltuie deur plaaslike hengelaars het weer die afgelope week onder die vergrootglas gekom.
Dit volg nadat inwoners foto's geneem het van hengelaars wat by Tweede Strand op Danabaai, aas met die hulp van 'n hommeltuig in die see laat val. Die Mossel Bay Advertiser het 'n video en foto's van die voorval onder oë gehad.
Foto's van hengelaars wat op Boggomsbaai 'n haai gevang het, nadat hulle aas met die hulp van 'n hommeltuig in die see laat sak het, het verdere omstredenheid ontlok. Dit is ook aan die Advertiser gestuur.
Dit blyk egter dat daar onsekerheid heers oor of dit wel wettig is om met die hulp van hommeltuie vis te vang.
Hoewel die departement van landbou, bosbou en visserye op 24 Februarie vanjaar 'n openbare kennisgewing uitgereik het waarin gemeld word dat die gebruik van gemotoriseerde toerusting vir ontspanningshengel, soos hommeltuie en afstandbeheerde toestelle en/of voertuie soos afstandbeheerbote en hommeltuie onwettig is, het verskeie hengelklubs appèl aangeteken en die saak na die Hooggeregshof in Pretoria geneem.
Teen die ter perse gaan was uitspraak in die verband steeds voorbehou en het hengelaars aangevoer dat nog geen wet in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Hengelaars voer dus aan dat hulle intussen steeds hommeltuie tydens visvangekspedisies kan gebruik.
Hengelklubs in Suid-Afrika voer verder aan dat daar 'n verskeidenheid redes is hoekom hulle wel met die hulp van hommeltuie wil visvang.
Dit sluit in die gebruik van swaarder aas wat glo minder stres op die vis tydens die vangs plaas.
Volgens 'n hengelaar op Mosselbaai het die hommeltuie wat hulle gebruik vir visvangdoeleindes ook nie kameras op nie.
"Wat is die verskil of jy die aas met 'n hommeltuig na die water neem of met 'n kano?" vra die hengelaar.
Die Advertiser het verneem die hengelaars wat op Boggomsbaai die haai gevang het, het wel oor die nodige visvanglisensies beskik.
Hommeltuie
Naas die kwessie oor die gebruik van hommeltuie tydens hengel, is dit tans egter onwettig om met 'n hommeltuig vir welke rede ookal in die Danabaai-area te vlieg.
Hoewel die hengelaas aanvoer dat hulle onder 'n hoogte van 30m met 'n hommeltuig mag vlieg, word Danabaai as 'n geen-vlieg-sone gekenmerk omdat dit in die beperkte radius van die Mosselbaai-vliegveld is.
Tans is daar volgens die Advertiser se kennisname slegs een inwoner op Mosselbaai wat ten volle gekwalifiseerd is en oor die korrekte lisensie beskik om met 'n hommeltuig te mag vlieg.
Navrae in die verband is aan die departement van landbou, bosbou en visserye gerig.
'n Inwoner het hierdie foto geneem waar hengelaars op Tweede Strand by Danabaai aas met die hulp van 'n hommeltuig in die see laat val.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'