Dit was een van die talle eienskappe van kapt Christo Serfontein, hoof van die ondersoekeenheid by die KwaNonqaba Polisiestasie, wat een na die ander deur talle van sy bevelvoerende offisiere en ondergeskiktes geopper is toe daar op Woensdag 29 Oktober van hom afskeid geneem is.
Kapt Serfontein neem eersdaags die leisels van die Veediefstaleenheid op Oudtshoorn oor.
Tydens die afskeidsgeselligheid het die be-velvoerder van die Da Gamaskop gebied, brig Gerhard Jantjies, die lede daaraan herhinner dat hulle 'n sterk leier verloor, maar as eenheid steeds baie sterk is en op die suksesse wat hulle in die bestryding van misdaad vermag, werklik trots kan wees.
"Kapt Serfontein gaan sekerlik 'n leemte as kollega en leier by KwaNonqaba Polisiestasie laat. Onder sy leiding het die ondersoekbeamptes 'n wesentlike verskil in die gemeenskap gemaak.
"Met ons oë op die Skepper gerig sal ons in ne-derigheid voortgaan om diens na die beste van ons vermoë te doen en die gemeenskap te dien. Dankie, kapt Serfontein, vir jou besondere kollegialiteit," het brig Jantjies gesê.
Kol Claassen het die lede aangemoedig om kapt Serfontein se opvolger, wat nog aangewys moet word, tot dieselfde mate te ondersteun.
"Toe ons die lede van KwaNonqaba se ondersoekeenheid onlangs die geleentheid gegee het om met lede van Da Gamaskop uit te ruil sodat hulle beter werksomstandighede kon ervaar, het nie eens een lid bereid gewees om die KwaNonqaba ondersoekeenheid te verlaat nie.
"Dìt getuig van leierskap en groepskohesie, 'n besondere nalatenskap vir 'n besondere leier," aldus kol Claassen.

Die ondersoekeenheid van die KwaNonqaba Polisiestasie het op Woensdag 29 Oktober van hul bevelvoerder, kapt Christo Serfontein (middel, voor) afskeid geneem. Kapt Serfontein neem eersdaags die bevel van die Veediefstaleenheid op Oudtshoorn oor.

Ao Kabous Oosthuizen oorhandig nog 'n geskenk namens die ondersoekeenheid aan Kapt Christo Serfontein.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'