MOSSEL BAY NEWS - In 2016, tydens die vorige munisipale verkiesing, was sy die oudste kieser in haar wyk wat selfstandig by die stembus haar kruisie getrek het. Dít vertel die speaker, raadsheer Petru Terblanche van Dillie Liebenberg wat op 1 September, haar 101ste Lentedag gevier het.
Andriesa Christian (Dillie) Ackerman is op 1 September 1918, met die draai van die Eerste Wêreldoorlog in die Potchefstroom-omgewing gebore. Sy was een van sewe kinders wat later in Ladismith, Wes-Kaap hervestig.
Na matriek trou sy met 'n boer uit die Upington-omgewing, Gert Liebenberg. Twee kinders, 'n seun en 'n dogter is uit die huwelik gebore.
Die Liebenbergs het in 1964 op Hartenbos kom aftree. Dillie is reeds 35 jaar lank 'n weduwee en woon die afgelope 11 jaar in Hartenrus, waar haar verjaarsdag op Maandag, 2 September gevier is. Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die speaker, het haar op die dag besoek.
Dillie se dogter, Christine (72) wat saam met haar man, Gerrit ook in die aftree-oord gewoon het, is onlangs oorlede.
Gerrit, merkbaar bewoë tydens die verjaarsdagviering Maandagmiddag, het gesê dat sy skoonmoeder bykans nooit siekword nie.
Dillie het vyf kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Dillie Liebenberg is op 101 steeds 'n ware lentenooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'