MOSSELBAAI NUUS - Die ANC het onlangs indringende vrae oor die toeganklikheid van skole vir plaaslike leerders in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer aan beide die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, minister Debbie Schäfer en die LUR vir menslike nedersettings, minister Bonkinkosi Madikizela gerig.
Volgens die ANC se hoofsweep in die provinsiale wetgewer, Pierre Uys, is dit ontstellend dat die minister van onderwys sover bekend in al die tyd wat sy aan die hoof van onderwys in die provinsie staan, nog nooit in amptelike hoedanigheid in Mosselbaai was nie.
Uys het Schäfer gevra of 'n hoërskool vir Aslapark beplan word, en indien wel, wanneer dit na verwagting voltooi sal wees. Schäfer het gesê dat, hoewel 'n behoefte vir nuwe skole op Mosselbaai geïdentifiseer is, daar nie voor 2022 enige bouwerk aan enige nuwe skole verwag kan word nie. Dít, mits die departement openbare werke en vervoer wel fondse beskikbaar kan stel vir die verkryging van geskikte persele.
Tot dan sal die onderwysdepartement moontlikhede ondersoek om fasiliteite by bestaande hoërskole te verbeter en uit te brei om aan die groeiende behoefte vir skole te voorsien.
Beplanning
Schäfer het geantwoord haar departement in hul mediumtermyn-uitgaweraamwerk (MTEF) voorsiening gemaak het dat met die beplanning vir 'n nuwe hoërskool in 2024 begin kan word, met die waarskynlike voltooiing in 2026/27. Die beplanning vir 'n nuwe laerskool is geprioritiseer om teen 2022/23 'n aanvang te neem, met 'n waarskynlike voltooiingsdatum in 2024/25.
Sonskynvallei
Kommer oor die toename in leerdergetalle weens die hervestiging van Powertown-inwoners in Sonskynvallei is ook in die provinsiale parlement geopper. Uys wou van Madikizela weet watter voorsiening gemaak is vir die toename in leerders wat vanaf Sonskynvallei die omliggende skole moet bywoon.
Tans is dit departementele beleid dat vervoer nie aan leerders verskaf word wat nader as vyf kilometer van skole woon nie. Leerders van Sonskynvallei moet gevolglik met die besige Oudtshoornpad skool toe stap. Die spoedgrens op hierdie pad is 80 km/h, en leerders moet boonop die pad kruis om by die skool te kom.
Madikizela het in sy antwoord na die dilemma as 'n "catch 22-situasie" verwys en gesê omstandighede is vir hom persoonlik ook onaanvaarbaar, juis weens die gevaar waaraan die leerders blootgestel word. Hy het laat blyk dat gesprekke oor die situasie wel met die minister van onderwys oor die probleem, ook die toename in leerdergetalle by Laerskool Hartenbos, gevoer is. Dit blyk dat hierdie gesprekke steeds voortduur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'