Update
MOSSELBAAI NUUS - Twee 24-jarige mans is die afgelope week in hegtenis geneem, kort nadat minstens 19 huise op Reebok deur albasters beskadig is.
Die eerste voorval is Maandag, 25 Julie om ongeveer 22:00 by die Midbrak-buurtwag aangemeld. Die betrokke inwoners, Solly en Susan Grobler, het aanvanklik gedink daar word op hulle woning geskiet.
Hy en sy vrou het die geraas gehoor en toe glasstukke op die sitkamerbank en in die slaapkamer aangetref.
Susan sê hulle het dadelik die buurtwag in kennis gestel en het eers ontspan nadat die polisie 'n albaster op die toneel opgetel het.
Die ander albaster kon hulle nog nie kry nie. Kort daarna is een-na-die-ander huise geteiken en vensters is beskadig. "Ons moet twee groot ruite vervang," sê Susan.
Die polisie op Groot-Brakrivier het hulle hande vol gehad en privaat sekuriteitsfirmas het gehelp om die gebied te patrolleer.
Teen 03:00 Dinsdagoggend, 26 Julie is die laaste voorval aangemeld. Volgens die Groot-Brakrivier polisieskakelbeampte, sers Lauriane Botha, is verskeie sake van kwaadwillige saakbeskadiging ná die voorval aanhangig gemaak. Die albasters is na bewering met 'n kettie geskiet.
Botha sê die verdagtes is nie van die Mosselbaai-omgewing afkomstig nie. Hulle word by die polisiestasie se aanhoudingselle aangehou. Die verdagtes sal binnekort in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn op aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging.
Vorige Artikels: Verskeie wonings met albasters geskiet
Inwoners het aanvanklik gevrees dat dit koeëlgate is.
Die albasters wat geskiet is, het groot skade vir inwoners van die woonbuurte aangerig. Foto's: Alet Engelbrecht
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'