MOSSELBAAI NUUS - Sunbeam Kleuterskool vier vanjaar sy 73ste bestaansjaar. Die kleuterskool het Donderdag, 8 Februarie, heerlik partytjie gehou en ‘n paar gaste met jarelange verbintenisse was genooi om die dag met die personeel, sommige bestuurslede en die kinders te vier.
Mareldea Petersen, wie verlede jaar aangestel is as hoof van dié kleuterskool, het die ouers, personeel en gemeenskap bedank vir hul oop harte en warm verwelkoming toe sy aangestel was as hoof.
In ‘n passievolle toespraak het sy die gaste en personeel die versekering gegee dat sy genoeg inligting omtrent Sunbeam bymekaar gemaak het sedert haar aanstelling en dat sy sal voortbou op al die harde werk wat tot dusver ingesit is om van dié instansie ‘n sukses te maak.
Mevrou Mieta Simons, wie van die eerste matrones van Sunbeam was, se dogter, Allison (Girl) Marais (73), het ook die geleentheid bygewoon. Sy was drie jaar oud toe haar ma daar begin werk het.
FOTO GALLERY: Dexter Brinkhuis
Sy noem dat haar ma moes begin werk omdat haar pa pas afgesterf het en haar ma moes toe sorg vir haar en haar twee susters en een broer. Aunt Mieta, soos almal haar geken het, was ‘n geliefde mens in die gemeenskap. Sou jy enige kind van destyds by Subeam gevra het watter kleuterskool hulle bywoon, dan sou hulle noem dat hulle by Aunt Mieta se kleuterskool was. Sy onthou die dae toe haar ma vir kinders wat siek geword het by die kleuterskool na die kliniek moes neem. Die kliniek, onthou sy, was net oorkant die pad van waar die kleuterskool geleë was. In daardie stadium was die skool in Tarka geleë.
Meneer Mario du Plessis, tesourier van Sunbeam, het vertel hoe hulle moes swoeg om die plek in stand te hou en te beveilig nadat vandale die eiendom beskadig het, ‘n brand wat uitgebreek het en ook diefstalle wat die afgelope paar jare plaasgevind het. Hy het trots genoem dat Sunbeam die goedkoopste kleuterskool op Mosselbaai is en dat hulle die kostes aan die ouer so laag moontlik hou. Baie ouers uit die gemeenskap trek ook swaar om met die betaalbare fooie by te hou.
Hy het ook genoem dat die vorige besture en onderwysers hard gewerk het en dat die kleutersool baie suksesvolle manne en vroue opgelewer het.
Du Plessis voeg by dat daar steeds baie tekortkominge is en die gemeenskap en besighede genooi om met die kleuterskool te skakel indien hulle enige hulp, hetsy finansieël of wat ookal ‘n bydrae wil lewer.
Vir meer inligting of donasies kan die volgende persone gekontak word. (Mario du Plessis by 072 373 2583 of die skoolhoof, Mareldea Petersen by 071 617 5420 of 081 059 6700).
Sunbeam Kleuterskool het hulde bring aan die volgende mense wie deel was van die personeel, besture en werkers: Mev Searle, mev Bosman, mev Nixon, mev Gwayde, mev Hogarth, mevv Lewin en Roeder, mej Kriel, mev Scholtz, mev Roman, mev Muller, mev Titus en mev James.Leerders, onderwysers en gaste by die 73ste bestaansjaar-vieringe by die Sunbeam Kleuterskool. Foto: Dexter Brinkhuis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’