Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Ses maande nadat 'n 16-jarige hoërskool-leerder van Mosselbaai wreed verkrag en vir die dood agter gelaat is, is 'n 50-jarige man deur die polisie in hegtenis geneem.
Die slagoffer kon weens die ernstige aard van haar beserings aanvanklik nie 'n verklaring aflê nie en het bykans drie maande in die Groote Schuur hospitaal in Kaapstad spandeer.
Sy is ná bewering op 23 Desember verlede jaar aangeval nadat sy die Tarka-fees bygewoon en huistoe gestap het.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer in die rigting van Uitbreiding 8 gestap het toe sy duskant Ridgeview Primêre skool deur 'n man gegryp en die bosse ingesleep is.
Dáár is sy amper dood geslaan en met klippe gegooi waarna sy ook verkrag en in die veld agter gelaat is.
Volgens die polisie het die slagoffer ná die aanval na haar woning gestrompel, maar naby 'n winkel in Uitbreiding 8 inmekaar gesak.
'n Verbyganger het op haar afgekom waarna sy eers na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem is. Sy is oorgeplaas na die George-hospitaal en toe na Groote Schuur waar sy behandeling vir haar beserings ontvang het.
Die verdagte is Maandag in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van poging tot moord en verkragting.
Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat die slagoffer steeds nie skool bywoon nie omdat sy nog van haar beserings herstel.
Die saak is uitgestel tot volgende week vir verdere ondersoek en die verdagte bly in aanhouding.
Die voorval word deur die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.
* Die verdagte se identiteit kan nie bekend gemaak word totdat hy gepleit het op die aanklagte teen hom nie.