Sponsored Content
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se burgemeester en DA-burgemeesterskandidaat in die komende munisipale verkiesing, Dirk Kotzé, gesels reguit oor ‘n onderwerp wat reaksie lok, die Verenigde Nasies se Agenda 2030 vir volhoubare ontwikkeling en wat dit vir Mosselbaai beteken.
Agenda 2030 se 17 ontwikkelingsdoelwitte fokus onder meer op volhoubare dienslewering, ekonomiese groei, werkskepping, infrastruktuurontwikkeling, omgewingsbestuur en gemeenskapsontwikkeling. Wat beteken dit egter prakties vir Mosselbaai?
Volhoubare ontwikkeling
“Die Demokratiese Allianse se beleid is gegrond op volhoubare ontwikkeling en dienslewering en ondersteun die ontwikkelingsdoelwitte in die gelyke geleenthede-samelewing wat die DA voorstaan. As enigste genooide burgemeester uit 19 Afrika-lande kon ek onlangs in Ethiopië, op die VN se koste, Mosselbaai se volhoubare ontwikkelingsprojekte op dié internasionale platform toelig.
Bloomberg
Ontwikkeling kos geld. Dus het ons in 2025 aan die Bloomberg-burgemeesterskompetisie met ‘n aanloklike miljoen US-dollar prysgeld deelgeneem. Só is ons aan die Agenda 2030-volhoubare ontwikkelingsdoelwitte blootgestel, net om te besef: ons werk dan reeds volgens talle van dié beginsels.
Ons het daardie kompetisie nie gewen nie, maar gryp sedertdien die geleenthede aan wat daaruit voortspruit. Internasionale maatskappye meet hul reeds aan die ontwikkelingsstandaarde, soos armoedeverligting, die strewe na gelykheid, ekonomiese groei en om gemeenskappe meer veerkragtig te maak.
Direkte buitelandse beleggings vereis deesdae voldoening aan die ontwikkelingsdoelwitte. Dis dus logies om die munisipaliteit met hierdie ontwikkelingsdoelwitte te belyn, projekte daarteen te meet en die resultaat daarvan gepas te rapporteer.
Die raad het dit ook goedgekeur. Die VN was sodanig beïndruk met Mosselbaai-munisipaliteit se resultate dat ek genooi is om op hul platforms oor ons dorp en ons werk te praat.
Wat baat dit inwoners?
Mosselbaai-munisipaliteit belyn projekte wat reeds geïmplimenteer word, met die VN se doelwitte.
- Doelwit 6 vereis die lewering van skoon water en onlangs is die nuwe Vaale Vallei-reservoir van R45m geopen.
- Doelwit 7 verwys na bekostigbare energie en die munisipaliteit implementeer tans R230m aan ‘n solaraanleg om ons grootmaatriooldienste selfs tydens kragonderbrekings volhoubaar in die Brakke-omgewing te kan lewer. Die Hartenbos Streekswaterwerke se solarplaas is afgehandel en stel 'n omgewingsmaatstaf wat toekennings gewen het vir die verbetering van munisipale klimaatslimontwikkeling en dienskontinuïteit. Binnekort is al ons grootmaatwaterwerke, Pinnacle Point uitgesluit, van die Eskom-netwerk af met sesuur-batteryrugsteun. Dink aan die koste wat dit inwoners spaar.
- Doelwit 11 verwys na volhoubare stede. Doelwit 8 fokus op werkskepping en groei.
- Doelwitte 16 en 17 handel oor goeie regering en beplanning.
Ons werk om Mosselbaai as volhoubare dorp vir almal te bou. Ons moet innoverend wees om fondse vir sosiale projekte te kry. Munisipaliteite kry nie fondse om ons behoewende inwoners se lewensomstandighede te verbeter nie.
Ek kyk na alle en veral innoverende maniere om fondse, ook uit buitelandse bronne, te bekom om projekte te loods om die lewe vir ál ons inwoners te verbeter.
Boonop moet ons meet of ons dienste volhoubaar is, of ons gelyke geleenthede, selfs ekonomiese groei vir almal ontsluit. Ons meet ons vordering vervolgens teen die doelwitte binne die internasionale raamwerk.
Dit skep die prentjie wat enige bestuurder nodig het om te verseker dat aan verwagtinge voldoen word. Beide die administrasie en politieke rolspelers word gereeld gemeet aan internasionale standaarde in belang van ons gemeenskap.
Vennootskappe
Baie van ons dorp se uitdagings word reeds met groot sukses deur uitstekende vennootskappe aangespreek. Dink aan die samewerking tussen wetstoepassers en buurtwagte wanneer duisende matrieks in Desember op Mosselbaai toesak en hoe hard gewerk word om hul ouers die gemoedsrus te gee dat hul kinders hier ‘n veilige fees kan geniet.
Dink aan die suksesse van ons omgewingsvennote. Ons is besig om ons dorp gesinsvriendelik te maak deur die Make A Difference (MAD) projek in samewerking met die Ethan Project.
So kan nog vele suksesvolle vennootskappe genoem word, maar ek nooi inwoners uit om met die burgemeesterskantoor te skakel by 044 606 5000 om oor hierdie en ander samewerkingsvennootskappe te gesels.
Of luister na die volledige radio-onderhoud oor die Verenigde Nasies se Agenda 2030 vir volhoubare ontwikkeling hier.
Saam maak ons Mosselbaai werk!

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’