LANDBOUNUUS - Die wenner van vanjaar se Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie word op Woensdagaand 19 Mei in die Paarl aangekondig en lede van die publiek sal dit aanlyn kan volg.
Mnr PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, sê hulle is opgewonde om vanjaar weer ‘n jongboer-kompetisie te hê nadat dit verlede jaar op nasionale vlak as gevolg van Covid-19 afgestel is.
Die provinsiale wenner sal later vanjaar meeding om die nasionale titel van die Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar.
Hier volg 'n bietjie meer oor vanjaar se deelnemers:
Jo-andra Cloete Greegory (34)
Alleen-eienaar: Our Poultry Place, Joostenbergvlakte - hoenderboerdery
Cloete Greegory het haar besigheid in 2016 sonder enige lenings of toelaes met 100 hoenders in ‘n informele nedersetting begin. Vandag huur sy vyf hektaar grond en Our Poultry Place verskaf deesdae 10 000 dagoud kuikens per maand aan opkomende produsente.
Sy sê haar visie is om die voorkeur pluimveeplaas te wees waar alle benodigdhede onder een dak is: van dagoud kuikens tot voer, medisyne en toerusting. Om haar insetkoste te beperk en die omgewing te beskerm, gebruik sy herwinbare materiaal.
“Ek wil ‘n fasiliteringsrol speel om die pluimveebedryf te laat groei. Ek glo daaraan om in ander te belê sodat ons saam sterker kan wees,” sê dié entrepreneur wat ook as mentor vir opkomende boere optree. Sy werk ook tans aan ‘n projek om vroueboere te bemagtig en soos die besigheid groei, herinvesteer sy in veiligheid vir die plaas.
Cloete Greegory is ‘n lid van die Stellenbosch Landbougenootskap en haar medelede is vol lof vir haar deursettingsvermoë. Volgens hulle is sy doelgerig en lewer sy ‘n belangrike produk aan hoofsaaklik die informale mark waar die aanvraag na braaikuikens groot is. Sy is innoverend in haar denke en besluitneming en het deur toewyding ‘n boerdery-onderneming begin wat tot die ekonomiese ontwikkeling van die gebied bydra, meen hulle.
Alexander Gibson (31)
Boer op Doornkraal Agri – Witzenberg Vallei, Ceres
Alexander Gibson
Gibson boer die afgelope 10 jaar met 300 ha appels en 110 ha pere en sê hy sal graag vertakkings wil byvoeg om sy risiko te versprei. Die plaas verkoel, verpak en bemark al die vrugte self en volgens Alexander is dit ‘n groot voordeel omdat die produk in hulle hande bly. Hy probeer ook altyd op hoogte van die nuutste en beste praktyke in die bedryf bly en wil graag ‘n groener benadering begin volg, soos om sonstelsels aan te bring en meer aandag aan herwinning te gee.
Volgens Gibson is netheid en dissipline sy vernaamste kenmerke. “Netheid kweek dissipline en sodra daar dissipline in die werksplek is, is alles net soveel makliker. Ek hou daarvan om alles reg te doen. Ek glo ook hoe meer verantwoordelikheid ‘n persoon het en aanvaar, hoe trotser is hulle op wat hulle doen,” sê hy.
Hy is ‘n lid van die Witzenberg Vallei Landbouvereniging waar hy op die dagbestuur dien en in beheer van die landelike veiligheidsportefeulje is. Sy medeprodusente sê Gibson pas voortdurend by veranderlikes aan en dat hy hom toespits op die implementering van nuwe tegnologie. Volgens hulle het hy besondere leierseienskappe waarmee hy die gemeenskap dien.
Derec Giles (38)
Boer op Dwarsfontein, Uniondale
Derec Giles
Giles boer al 20 jaar met groentesaad, volstruise en skape en het ook ‘n vleisbeesvertakking met kruiskoeie wat hy met Sussex-bulle dek. Hy sê sy visie is om elke vertakking optimaal binne goeie bestuurs- en bewaringspraktyke te bedryf.
Hoewel die voortslepende droogte in die gebied ‘n impak op sy boerdery het, fokus hy op beter waterbenutting en beter keuses op weidingsaanplantings om die droogtetoestande te bestuur. “Ek moes al baie planne maak om te oorleef en kompeterend te bly, maar ek bly optimisties oor die toekoms. Ek is ‘n aanhouer en hardwerkend wat graag my kennis deel en help waar ek kan,” sê hy.
Giles, wat al as preie-saadkweker van die jaar en lente-uie saadkweker van die jaar bekroon is, sê behalwe vir produksiedoelwitte, soos om sy lampersentasie en die uitbroeipersentasie van broeivoëls te verhoog, wil hy ook die tyd wat hy saam met sy gesin spandeer, vermeerder.
Hy was die afgelope sewe jaar die sekretaris van die Agri Uniondale Landbouvereniging en is ook die voorsitter van die plaasveiligheidskoördineerders. Volgens sy medeboere is Giles ‘n harde werker wat graag die leiding neem waar dit nodig is.
Floris Steenkamp (38)
Boer op Kromfontein, Koue Bokkeveld
Floris Steenkamp
Steenkamp boer al vir 19 jaar en is die afgelope sewe jaar die produksiebestuurder op Kromfontein waar appels en pere verbou word. Hy het in 2006 ook sy eie grond by Sutherland gekoop waar hy met basterooie boer.
“Daar is twee goed wat ek verstaan, dit is ‘n vrugteboom en ‘n skaap. Altwee praat met my en ek verstaan hulle,” sê dié bestuurslid van Bewaringslandbou Wes-Kaap. Sy visie vir die toekom is juis om bewaringslandbou as deel van ‘n holistiese, volhoubare en winsgewende boerdery-opset tot voordeel van hul werkers, die natuur en sy gesin te bedryf. “Alle take wat ek aanpak, probeer ek op die regte tyd, met die regte hulpbron op die regte manier te doen,” sê Steenkamp, wat ook lid van die Koue Bokkeveld Veiligheidsgroep is.
Volgens sy medeboere is hy ‘n kenner op sy vakgebied wie se goeie oordeelsvermoë en regte besluite in sy resultate gesien word.
“Ek is ‘n boer gebore en nie gemaak nie. Ek wou vandat ek kan onthou net boer. Daar is niks besonders aan my nie, net genade van bo,” sê Steenkamp.
Kleinjan Teubes (30)
Boer op Versig, Vredendal
Kleinjan Teubes
Teubes is al vir 11 jaar bedrywig met droogdruiwe, wyndruiwe, groente en steenvrugte en is hoofbestuurder van die plaas. In 2017 het hy ook twee hektaar nektariens aangeplant wat tans baie positief lyk.
Die droogte in die Matzikama-distrik het ook ‘n impak, maar Teubes sê hy gaan alles wat hy in die droogte geleer het, verder toepas. “Ek soek altyd geleenthede waarop ons kan kapitaliseer, soos die grond wat ek in die droogte gekoop het en wat homself ‘n jaar later betaal. As jy die keuse maak om suksesvol te wees, moet jy die wil hê om dinge te maak werk,” sê hy.
Teubes, deel van die Oliphantsherlewing-landbougroep, sê hy wil ‘n 100% volhoubare boerdery bestuur met elke vertakking wat op sy eie bene staan. “Tegnologie speel ‘n belangrike rol in die boerdery en hoe vinniger jy dit inbring, hoe vinniger gaan jy die waarde sien. Ek wil herlewingslandbou ook ‘n prioriteit maak,” sê hy.
Sy medeboere by die Vredendal Landbouvereniging sê daar is geen beter voorbeeld vir passievol as Tuebes nie, wat ook ‘n lid van die plaaswag is. Boerdery of gesinsman, hy doen alles altyd tot die beste van sy vermoë, sê sy medeboere.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'