Gesonde grond is die fondament van enige voedselproduserende sisteem.
In gesonde grond bestaan daar balans tussen die biologiese, chemiese en fisiese prosesse. Hierdie balans word deur bestuurspraktyke soos grondbewerking, bemesting, beweiding, besproeiing en ander landboupraktyke versteur. Boere is bewus daarvan dat grondgesondheid die produksievermoë van grond bevorder.
Die uitdaging is om praktiese metodes te identifiseer wat grondgesondheid bevorder.
'n Omvangryke navorsingsprojek word deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Outeniqua-navorsingsplaas beplan om grondgesondheid as basis vir weidings in die Suid-Kaap te definieer.
Op die oomblik bestaan daar geen norme en waardes waaraan grondgesondheid gemeet kan word nie. Na afloop van ontwikkeling van hierdie waardes, sal die toestand van grond in die Suid-Kaap in terme van grondgesondheid geassesseer word.
Die projek sal ook die invloed van bewerkingspraktyke op die gehalte van grond ondersoek. Dit sal die boere in staat sal stel om bestuursbesluite te maak terwyl volhoubaarheid verseker word. 'n Indeks op 'n skaal van 1 tot 100 word ontwikkel wat die boer in staat stel om die status van sy grondgesondheid te bepaal.
Om die projek suksesvol uit te voer word die hulp en samewerking van melkproduserende boere in die Tsitsikamma en Suid-Kaap benodig. Inligtingsessies waar boere meegedeel gaan word oor hoe hulle by die projek betrokke kan raak, word op verskillende dele van die Suid-Kaap gehou.
Hier sal die boer ingelig word oor metings wat op hul weidings geneem kan word, metodes van ontledings, die voordele vir die boer en die uitkomste hiervan. Samewerking van melkboere word vereis om van die projek 'n sukses te maak en weidings vir ontledings beskikbaar te stel. Melkboere vanaf weidings word uitgenooi om een van die sessies by te woon en so deel te word van hierdie belangrike projek in die Suid-Kaap.
- 24 Mei 2012 11:00 George Outeniqua-navorsingsplaas
- 29 Mei 2012 11:00 Riversdal Landman-saal Tuinroete Agri
- 30 Mei 2012 11:00 Heidelberg SSK Lesingsaal
- 31 Mei 2012 11:00 Swellendam SSK Lesingsaal
Hierdie navorsing sal boere in staat stel om bestuurspraktyke binne die sfeer van grondgesondheid en volhoubaarheid winsgewend te bestuur. Dis egter onmoontlik om hierdie navorsingsprojek sonder die ondersteuning van die Suid-Kaapse weidingsboere uit te voer.
Vir verdere inligting skakel Pieter Swanepoel of Dr. Philip Botha by 044 803 3700.