Swart het 'n heerlike gloed van geluk ervaar toe hy die drie goue medaljes te midde van gelukwensings opgelig het.
Die koor het triomfantelik teruggekeer as kampioene van die Wêreldkoorspele in die Musica Sacra-kategorie, en altesaam drie goue medaljes in verskillende afdelings gewen.
'n Kleurvolle toneel het die koor verwelkom met familie en vriende wat plakkate en ballonne swaai en vir 'n warm verwelkoming gesorg het.
Die trane het vlak gelê in die emosiebelaaide aankomssaal waar oumas en oupas, trotse ma's en pa's hulle kinders (sommige so jonk as 9 jaar) omhels het ná hul 16-dag-toer van België, Duitsland en Riga in Letland waar die kompetisie plaasgevind het.
"Dit was fantasties toe hulle ons naam aankondig as die wêreldkampioene.
"Ons kon dit byna nie glo nie toe ons uit 240 kore gekies is vir sulke topposisies en dit terwyl ons relatiewe nuwelinge is," het Swart by navraag gesê.
Die koor se skakelbeampte, Engela Marais, het aan die George Herald gesê: "Dit is wonderlik om tuis te wees, dit was 'n lewensveranderende ervaring."

Luanke Pieters (13, regs) het 'n innige druk van haar ma, Dee gekry te midde van groot opgewondenheid.

Laaste grappies en nou terug na die realiteit ... die Suid-Kaap Kinderkoor verlede Woensdag by die George-lughawe in 'n triomfantelike bui. Dirigent Jan-Erik Swart het dit beklemtoon dat die kinders baie hard gewerk het vir die oorwinning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'