TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Verhoogproduksie wat vir oulaas by die komende Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn te siene sal wees, spog met altesaam vyf nominasies vir die gesogte Naledi-teatertoekennings vir uitvoerende kuns.
Karoo Suite 2: Karoonagte deur die musikante Coenie de Villiers, Mauritz Lotz en skrywer Deon Meyer is 'n Pieter Toerien-produksie wat op 8 en 9 April vir die eerste keer in die Karoo opgevoer gaan word.
"Wat vir ons heerlik is, is die feit dat hierdie Afrikaanse produksie so goed ontvang is, en dat ons dit na die Covid-19-inperking uiteindelik na die Karoo kan neem," het De Villiers gesê. "Ons het nie eens geweet die produksie word genomineer nie, wat nog te sê van vyf!"
Nominasies vir die Naledi-teatertoekennings is op Wêreldteaterdag, Maandag 27 Maart by The Lesedi, in die Johannesburg-teaterkompleks, bekend gemaak. Die paneel beoordelaars het meer as 100 produksies oor alle genre van die uitvoerende kunste onder oë gehad.
Karoo Suite 2: Karoonagte is 'n audiovisuele verhoogproduksie met fotografie van twee internasionale fotograwe van die National Geographic wat in De Rust woon, fotomateriaal van Nasa se Hubbel-ruimteteleskoop, musiek deur De Villiers en Lotz, vertellinge deur Meyer en animasiekuns deur Dick Grobler.
"Ons ken mekaar al vir dekades, maar om saam met Deon Meyer te werk was 'quite something'," het De Villiers gesê.
Hulle produksie het by die Woordfees in Stellenbosch in Maart 2020 gedebuteer, 'n week voor die inperkings begin het. Karoo Suite 2: Karoonagte sou eers weer in November 2022 in Kaapstad (Theatre on The Bay) en Johannesburg (Montecasino Theatre) vertoon word. En nou, uiteindelik in die Karoo - De Villiers se tweede tuiste wat hy graag afwissel met die besige stadslewe in Johannesburg.
* Die twee vertonings van Karoo Suite 2: Karoonagte vind plaas op 8 April (18:00) en 9 April (10:00) by die burgersentrum in Oudtshoorn. Bespreek 'n kaartjie (R225 - R265) by Webtickets of besoek die webtuiste kknk.co.za vir meer inligting.
Die nominasies sluit in Best Original Score / Musical Arrangements; Best Musical Director; Best New South African Script; Best Lead Performance in a Musical Theatre Production: Male; Best Ensemble in a Musical Theatre Production.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’