Voortaan sal die Artbeat Galery elke maand twee kunstenaars kies vir 'n baie spesiale uitstalling om hulle tot eer te strek.
Die eerste twee kunstenaars wat hierdie eer te beurt geval het, is Mariette Maarschalk en Mariaan Kotze.
Maarschalk was een van die kunstenaars wat van meet af aan die Artbeat Galery en Fringe Kunssentrum ondersteun het. Sy het in Johannesburg grootgeword, in Pretoria argitektuur studeer en woon die laaste 12 jaar op die plaas Vaalkranz naby Vleesbaai.
Sy skilder meestal haar eie ervarings in omgewings wat sy goed ken en verstaan. Op die manier gee sy vir jou 'n insig in hoe sy die lewe sien op 'n manier waarop jy dit nog nie vantevore gesien het nie. Alledaagse landskappe en mense se doen en late word intieme oomblikke wat fassineer en die kyker lank sal by bly.
Kotze, daarenteen, is nuut in die area en bring met haar werk 'n nuwe perspektief vir die kieskeurige kunsliefhebber.
Mariaan kom oorspronklik van Aliwal-Noord, later Klerksdorp, maar woon nou op Mosselbaai. Sy het na die Tuinroete verhuis juis omdat hier so 'n groot waardering vir die kunste is.
Sy is die dogter van Kobus Kotze, 'n gevierde kunstenaar. Mariaan sê sy het van kindsbeen af grootgeword met die heerlike geure van verf en stories en waardering vir kuns, die besluit om self 'n kunstenaar te word was daarom 'n natuurlike onafwendbaarheid. Sy word geïnspireer deur alledaagse dinge; 'n sinnetjie hier, iets mooi daar.
"Ek kry my inspirasie van liedjies, iets in die blaaie van 'n boek, geestelike ervarings en alledaagse situasies. Selfs 'n eenvoudige ketel, iets sentimenteels, iets moois sal my werklik motiveer," sê sy.
Die waardering van kuns is vir die Artbeat Galery werklik belangrik. Die gemeenskap van Mosselbaai word daarom uitgenooi om hierdie talentvolle kunstenaars se werke eerstehands te kom ervaar in 'n galery wat spreek van rustige kalmte.
"Kom geniet gerus die kuns in ons intieme kunsgalery en maak jou geestesoog oop vir die kreatiewe uitdrukking wat spreek uit die verskillende werke," nooi Charlene Eloff, die Artbeat Galery se bestuurder.
Besoek die galery daagliks tussen 10:00 en 17:00, Saterdae tussen 10:00 en 13:00. Kontak gerus vir Charlene by 081 356 5295 met navrae.

Mariette Maarschalk se kuns sal in die Artbeat Kunsgalery te sien wees. Besoek die sentrum om u te verlustig aan hierdie en ander werke deur hierdie besondere kunstenaar.