Drama. Woede. Hartseer. Verdagmakery. Tweespalt. Jaloesie. Hoop. Alles elemente van 'n goeie sepie waarvoor mense saans voor die televisie regskuif om na 'n lang, harde dag by die werk te ontspan en vir 30 minute van alle sorge te vergeet.
Die laaste paar maande is iets soortgelyk reeds besig om stukrag te kry en in die algemene openbare kollig af te speel. Die een is nie 'n sepie met professionele akteurs/aktrises en draaiboeke wat in moderne ateljees onder warm ligte met tegnologies gevorderde kameras opgeneem word nie.
Die een is 'n realiteit en soms voel dit amper soos 'n TV-werklikheidsreeks wat uitgesaai word. Die "sepie" het beslis parallelle met die sepies wat ons saans op TV kyk. Ek verwys na die algemene verkiesing van 2024.
En voordat jy dink: Ek stel nie in politiek belang nie en die een kan maar verbygaan, staan 'n oomblik stil. Ongelukkig kan jy die een nie ignoreer nie, want dit raak jou toekoms.
By watter episode van die nuwe "sepie" is ons nou? En het jy iets gemis? Wanneer word die laaste episode uitgesaai?
Die sepie, 2024 Verkiesing, het eintlik al lank terug begin. So ver terug as met die uitslag van die laaste algemene verkiesing wat op 8 Mei 2019 gehou is.
Daar was verwagtinge vir die uitslae. Daar was tevredenes en ontevredenes. Die tevredenes het besin hoe om aan al hul beloftes gehoor te gee. Die ontevredenes het besin oor die pad vorentoe. In daardie geledere is sekerlik gevra: Het ons die regte leier? Die regte beleid? Die regte kandidate gehad?
Daarna het die munisipale verkiesing op 1 November 2021 plaasgevind en politieke partye se verkiesingsmasjinerie is weer geolie. Kandidate is aangewys en daar was onder hulle sekerlik diegene wat in hul agterkop begin dink het om later ook te staan as kandidate in die 2024-verkiesing. Die nuwe sepie, 2024 Verkiesing - het egter in alle erns eers daarna begin.
Politieke partye verander nie sommer naby 'n verkiesing aan leierskap nie. Trouens naby 'n verkiesing word eerder gebou aan die beeld van leierskap. Aanvaar dus maar leierskap gaan nie nou maklik verander nie en daardie episode van die sepie is verby.
Wat wel die laaste tyd goeie kykstof in die sepie is, is die aanwysing van kandidate. 'n Baie bekende voormalige parlementslid, Koos van der Merwe, het altyd in die jaar en maande voor die verkiesing gesê politici begin koors ontwikkel: Lyskoors.
Dis baie meer belangrik as wat dit op die oog af lyk. Die Suid-Afrikaanse politieke stelsel maak voorsiening vir 'n proporsionele stelsel op die nasionale en provinsiale regeringsfere. Baie eenvoudig gestel beteken dit 'n politieke party se aantal lede op nasionale en provinsiale vlak word bepaal deur steun by die stembus.
Politieke partye stel 'n lys met 'n prioriteitsyferorde op vir kandidate. Vir enige kandidaat is dit belangrik dat hy/sy hoog op sy/haar party se kandidatelys moet wees.
By die groter partye is dit seker nie so belangrik om hoog op die lys te wees nie, maar by die kleiner partye kan dit byvoorbeeld die verskil maak tussen parlement toe gaan of werkloos wees.
Dit is ook nie toevallig as moontlike kandidate skielik nuwe politieke tuistes vind en hulself herposisioneer nie. Kyk gerus die episode.
Onlangs was daar 'n registrasienaweek en toe is die eerste politieke plakkate gesien. Dit is maar net die begin. Nader aan die verkiesing gaan plakkate op lamppale met glimlaggende leiers en kandidate baie algemeen word. Veral as 'n verkiesingsdatum aangekondig word. Nog 'n episode van die sepie.
In die aanloop van die verkiesing gaan verteenwoordigers kruis en dwars oor die land reis. Hulle wil jou stem hê. Voorts gaan "gevegte" op sosiale media woed en aanvaar dat baie vuil wasgoed in die openbaar gewas gaan word. Vir mense wat hou van intriges en sulke dinge, is dit 'n episode wat gewis nie gemis mag word nie.
Tussendeur is daar staatsamptenare wat senuweeagtig op die kantlyn staan. Van hulle is politieke aanstellings en kan eenkant geskuif word as nuwe bewindhebbers oorneem. Ook goeie kykstof.
Dan breek stemdag aan - een van die hoogtepunte van die sepie, maar nie die hoogtepunt nie. Kandidate sal hul beste voet voorsit. Dit kan tog 'n interessante episode wees.
Vir moontlik die beste episode van die sepie, maak gereed vir die uitslag. Dan weet ons wie gaan byvoorbeeld parlement toe en die belangrikste: wie is in beheer.
As geen party 'n volstrekte meerderheid behaal nie, wag beslis die beste episode: Koalisievorming/samewerking. Dit kan baie spanningsvol met heelwat intriges wees. Wie gaan 'n minister word en watter portefeulje beklee? Wat se toegewings gaan gemaak word om in beheer te wees? Alles potensieel uitstekende kykstof.
Dalk is daar nog 'n episode wat ook die laaste kan wees. As daar nuwe bewindhebbers is, kan die posisie van die amptenare wat die vorige regering goedgesind was, ter sprake kom. Moenie dink hier gaan 'n towerstaf geswaai word en alle probleme gaan oornag opgelos word nie. Gaan die amptenare hul werk doen in die nuwe omstandighede? Of dalk 'n stok in die wiel wees? Dit kan ook vir 'n goeie sepie episode sorg.
Wees dus voorbereid op 'n baie interessante tydperk in ons land en goeie "kykstof". Daar kan sekerlik aanvaar word ons staan weer by 'n 1994-situasie. Daar word hoeka gepraat dat die 2024-verkiesing 'n waterskeiding kan wees.
*As jy nou al dink jy gaan net kyk en nie by die stembus opdaag nie, onthou gerus: Op stemdag neem dit slegs 'n paar sekondes om 'n kruisie te trek. Daardie paar sekondes het egter 'n impak vir baie jare en op meer mense as net jou en jou naaste familie en vriendekring.