Na bewering het inligting in die dossier ontbreek, onder meer 'n verklaring deur die eienaar. Sodra hierdie inligting bekom word, sal die saak weer voor die hof gebring kan word, sou die verdagtes, wat waarskynlik met talle voorvalle van huisbraak in die area verbind kan word, opgespoor kan word.
Intussen is die twee verdagtes wat gearresteer is, vrygelaat en het een van hulle, 'n jong blanke man, reeds die inwoners in P Nutansstraat op Dinsdagaand 4 November probeer intimideer. Die derde verdagte, na bewering 'n Nigeriër, is nie gearresteer nie.
Op heterdaad betrap
Op Vrydagoggend 1 November, om ongeveer 09:00, is 'n buurvrou daarop bedag gemaak dat 'n venster by 'n naasliggende vakansiehuis oop is, iets wat as ongewoon is. Sy het manmoedig die talle trappe na die huis afgestap, die oop venster bemerk en toe sy besef een van die deure is oop, onmiddellik die dienste van Danabaai Sekuriteit en die KwaNonqaba Polisie ingeroep.
Danabaai Sekuriteit se personeel het op drie persone binne die vakansiehuis afgekom. Hulle het daarin geslaag om 'n jong man te arresteer, maar twee ander vabonde het ontsnap. Met die hulp van die Langeberg K9-eenheid is een van hierdie persone op Danabaai se Eerste Strand in hegtenis geneem, maar teen druktyd was die derde persoon steeds soek.
Vandalisme benewens diefstal
Dit wil voorkom asof die booswigte vir dae lank onbelemmerde toegang tot die huis gehad het en dat hulle die binnekant behoorlik geplunder het. Daar is op verskeie plekke, onder meer op 'n houttafel in die huis probeer om brand te stig, en wat nie gesteel en weggedra kon word nie, is voor die voet gevandaliseer.
Die koperinhoud van 'n antieke staanhorlosie is uitgebreek en vernietig deur dit met 'n hamer in kleiner, draagbare stukkies te breek, 'n nuwe gasbraaier se knoppe is afgebreek, die deur na die instapkluis is oopgebreek en die wynkelder is geplunder. Talle draagbare huisware soos TV's, bedlinne en dies meer is weggedra of het in talle swart sakke het by vensters gestaan, gereed vir verwydering. Klassieke meubels is voor die voet gebreek.
Die eienaars van die vakansiehuis, mnr en mev Peet Struwig, wat voornemens was om eersdaags permanent hier te vestig, het hul absolute skok en afgryse oor die vandalistiese skade wat met die inbraak gepaard gegaan het, uitgespreek.
Op Maandagoggend het hulle steeds op forensiese kenners gewag sodat hulle hul versekering se assessors kon laat kom om 'n bestekopname te doen.
Die vermoede bestaan dat die diewe met twee voertuie, 'n wit Ford Bantambakkie met 'n CA-registrasienommer en 'n wit Volkswagen Golf, hul buit, wat bedags waarskynlik in die bosse versteek is, laatnag weggery het.
Buurtwag
Die gemeenskap word gemaan om baie meer oplettend en betrokke te wees by hul bure. Mnr Vossie Vorster van Danabaai Sekuriteit het aan die Mossel Bay Advertiser genoem dat hulle voornemens is om 'n buurtwag in die area te stig en het belangstellendes uitgenooi om hom hieroor, en ook oor misdaadvoorkomingswenke, by 044 698 2133 te kontak.
Hy maan inwoners om nie hul deure vir welke rede ongesluit te laat nie, selfs nie wanneer hulle tuis is nie. Bring ook voor elke venster, hoe klein ookal, behoorlike diefwering aan.
Inwoners moet moeite moet doen om hul bure te leer ken en by hulle betrokke te wees. Let veral op wat by vakansiehuise gebeur. Wanneer inbrekers op vakansiehuise toeslaan, bied dit hulle die ideale geleentheid om ander wonings in die straat dop te hou as 'n volgende potensiële teiken.
"Danabaai Sekuriteit bedryf sekerheidskameras by die sirkel by Danabaai se ingang en het 'n baie goeie idee van bewegings in en uit die area. Hoewel die huis in P Nutansstraat nie by ons gekontrakteer is nie, het ons personeel onmiddellik reageer, want dit gaan vir ons oor diens," berig Vossie, die eienaar van Danabaai Sekuriteit.
Die saak word ondersoek deur Sers Vusumzi Ndala van die KwaNonqaba ondersoekeenheid. Enigiemand met inligting word versoek om hom te kontak by 044 606 6507 of 079 823 3923.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Klik hier vir 'n fotogalery.

Die pragtige bad in een van die badkamers is gebreek en talle ware wat die boewe waarskynlik nog wou wegdra, het opgestapel gelê.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'