SUID-KAAP NUUS - Bly positief ingestel en hou by die wedstrydplan. Dit, in 'n neutedop, is die versugting van die SWD Arende se hoofafrigter, Rynhard van As, aan sy spelers vir Saterdagmiddag se opkomende kragmeting teen die Griffons.
Die Arende het vanoggend die lang tog na Welkom per bus aangepak. Van As besef alte goed dat die Griffons nie 'n welkom in Welkom-bordjie by die ingang na die myndorp vir hulle gaan uithang nie. Dié ontmoeting teen die voorloper in die Curriebeker se Eersteliga gaan amper bomenslike eise aan hulle stel.
Tot oormaat van ramp speel die lugdruk ook 'n groot rol en is die HT Pelatone-stadium se vaalgeel rugbyveld kliphard geryp, wat die bal in enige rigting laat bokspring.
Juis daarom, sê Van As, is dit uiters belangrik dat ons nie enige negatiewe gedagtes koester nie. "Daar is 'n nuwe gees in die span en ons moet dié positiewe ingesteldheid koester en op voortbou en nie toelaat dat negatiewe goed, soos die lang busrit, vatplek in ons gedagtes kry nie."
Die Arende lyk en speel soos 'n spiksplinternuwe span. Die ommekeer het al in Oudtshoorn teen die Westelike Provinsie begin en is twee weke gelede met 'n lofwaardige gelykopuitslag (42-42) teen die Luiperds in Potchefstroom voortgesit.
Die puik oorwinning oor die Grens-Bulldogs verlede week het verdere stukrag gegee aan die Arende se nuwe geesdrif.
Plettervat. Janneman Stander (flank) loop 'n speler van die Grens onderstebo.
"Nou moet ons dit net volhou," sê Van As. "Ons het 'n duidelike wedstrydplan uitgewerk teen die Griffons: speel in die regte gebied, behou balbesit en wees geduldig. Dan sal die punte volg."
Wen die Arende dié taaie, is dit beslis welkom in Welkom.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD SPORT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'