MOSSELBAAI SPORT NUUS - Bennie van den Heever van Mosselbaai het gedurende April as lid van die Protea Combat Rifle-span na Nieu-Seeland gereis waar hy en die 10 ander lede van die span, Suid-Afrika in 'n drienasie-skietkompetisie teen Nieu-Seeland en Australië verteenwoordig het.
Suid-Afrika het met die louere weggestap.
Reëlings vir dié kompetisie is reeds maande vooruit gedoen. Vliegtuigkaartjies en verblyf is bespreek en die spanlede het hard geoefen vir deelname met hul AR15-gewere.
Op 15 Maart, slegs drie weke voor die span op 9 April moes vertrek, het dinge egter drasties verander toe 50 mense hul lewens in 'n skietvoorval in 'n moskee in Christchurch, Nieu-Seeland verloor het. Die Nieu-Seelandse regering het dadelik 'n verbod op enige verdere kompetisies met AR15-wapens geplaas.
Volgens Van den Heever was dit op daardie tydstip te laat om aansoek te doen vir permitte om ander wapens na Nieu-Seeland te neem.
Omrede groot uitgawes vir reis en verblyf reeds aangegaan is, is daar besluit om wel voort te gaan met die kompetisie, maar dat daar met Nieu-Seeland se .303-gewere en ammunisie gekompeteer sal word.
Die skuts het individueel sowel as in spanverband deelgeneem en moes oor afstande van 100m, 200m en 300m uit die lê, sit en staande posisie in snelvuur, snap en toepassing oefeninge kompeteer.
Suid-Afrika se Rian Els van Gauteng-Suid was algeheel tweede terwyl die Proteas met die goue medalje in die spankompetisie huis toe gekom het.
Van den Heever het die Wes-Kaap verteenwoordig terwyl die ander spanlede vanaf Gauteng-Noord (een), Gauteng-Suid (vier), Vrystaat (drie), Noord-Kaap (een) en Mpumalanga (een) afkomstig is.
Dié skuts neem in Augustus aan die Suid-Afrikaanse Combat Rifle-kampioenskappe in Bloemfontein deel waartydens skuts van ses ander lande ook in aksie sal wees.
Bennie van den Heever (middel), saam met vier ander lede van die Protea-span (van links), Louwrens van Shaick (Mpumalanga), Louwrens du Plessis (Gauteng-Suid), Johan Karsten (Noord-Kaap) en Rian Els (Gauteng-Suid). Els was algeheel tweede in die individuele afdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'