Video
MOSSELBAAI SPORTNUUS EN VIDEO'S - Sonskynvallei, net buite Hartenbos, se mense het op Jeugdag besluit hulle moet iets doen om die jeug van die strate te kry en besig te hou.
'n Netbal- en 'n rugbyklub is gestig en die verskil wat die sportdissipline in die gemeenskap maak, is reeds sigbaar met minder kinders wat op straat is en ook minder dagga- en ander dwelmmisbruik.
Christo Olifant, afrigter van Sunshine United, Sonskynvallei se rugbyspan en 'n voormalige Hungry Lions-speler in die President Liga, is baie opgewonde oor die talent in die span en hy voel die toekoms lyk rooskleurig. "Die rugbyklub herleef nou en met die opgradering van die veld, lewer dit 'n positiewe bydrae tot die welsyn van die Sonskynvallei-gemeenskap,"
Benodig sportklere en toerusting vir rugby- en netbalspanne
Volgens Niklaas Meyer, voorsitter van die Sunshine Rugbyklub, speel die span op Saterdag, 22 Oktober hulle eerste wedstryd teen Nolshoogte op Sonskynvallei se veld. "Ons het oefenklere, spantruie, rugbystewels en ander toerusting nodig en hoop en vertrou dat ons 'n borg sal kry wat ons potensiaal raaksien en ondersteun."
Elsabé Prins, afrigter van die netbalspanne, vertel dat sy veral fokus om spelers dissipline te leer. "As jy in sport belangstel en wil speel, is selfdissipline op en af van die baan, die belangrikste element." Sy rig op die stadium 'n junior span (12 tot 14 jaar), 'n seunspan en 'n seniorspan af.
"My seun speel ook saam en hy en sy spanmaats is nou in die middae by my op die erf en nie meer op straat nie." Die span wat tydelik onder die naam Hungry Lions speel, het nog nie 'n wedstryd verloor nie. Prins is besig om die netbalspan as 'n ontwikkelingspan by Eden te registreer.
"Ons probeer om spandrag aan te trek vir wedstryde, maar het nie spanklere of geld vir vervoer na ander klubs toe nie. Ons speel hierdie naweek in Sedgefield en dit is moeilik vir ons om daar uit te kom."
Prezenda Harding hanteer die reklame en borgskappe van die Sunshine klub en noem dat daar goeie advertensievoordele vir enige besigheid of instansie is wat die klub wil borg.
VIDEO - Die afrigter van Sunshine United, Christo Olifant, vertel van die talent en planne vir toekoms (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
VIDEO - Die voorsitter van die Sunshine United rugbyklub, Niklaas Meyer gesels oor doelwit van sportklubs (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
VIDEO - Prazenda Harding verduidelik die belangrikheid van borge vir rugbyklere en ander benodigdhede (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
VIDEO - Elsabe Prins, afrigter van die netbalspanne in Sonskynvallei vertel van die verskil wat sport maak (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser) .
Kontak Prezenda (060 763 4384) vir meer inligting of vir Niklaas Meyer, die voorsitter van die klub (063 946 2813).
Kinders van Sonskynvallei kyk hoe hul ma's en sussies netbal oefen.
Van die bestuurslede van die Sunshine United rugbyklub, Teboho Jacob Motloung (ondervoorsitter), Christo Olifant (afrigter), Niklaas Meyer (voorsitter) en Gideon Pfahl (spanbestuurder) by die veld in Sonskynvallei.
Sunshine United se rugbyspelers doen opwarmingsoefeninge voor hulle begin oefen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'