MOSSELBAAI NUUS - 'n Aksielaaide naweek lê voor vanaf 12 tot 15 Mei wanneer bykans 2 000 mense op Mosselbaai sal toesak vir die nasionale skopbokskampioenskap wat by die Diaz Strand Hotel aangebied word.
Volgens die organiseerders sluit dit 700 skopboksers in.
Ringkoppe wat by hierdie kampioenskap verwag kan word, is die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais wat die amptelike opening sal waarneem en die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Skopboksassosiaie oftewel SAKA.
Atlete kwalifiseer vir deelname uit verskeie distrikte en provinsies. Dit sluit in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng-Oos, -Wes, -Sentraal en -Noord, Noordwes, Vrystaat, Noord-Kaap, KwaZulu-Natal, Eden Overberg, Kaapse Wynland, Kaapstad Metro en die Weskus.
Na die kampioenskappe, word 'n junior en senior Protea-span gekies. Daar word ook president senior- en president juniorspan gekies. Hierdie spanne gaan na die World Association of Kickboxing Organizations oftewel WAKO-kampioenskap.
Die senior en junior wêreldskopbokskampioenskap word tweejaarliks in Europa aangebied. Vanjaar word die junior wêreldkampioenskap aangebied.
Kategorieë waarin die skopboksers meeding, word volgens ouderdom en gewig bepaal. Tot en met 18 jaar, word in die junior kategorie gekompeteer en tussen 19 en 39, die seniors. Veterane kan aantree as hulle tussen 40 en 55 jaar oud is.
Volgens een van die organiseerders, pak die juniors mekaar op Vrydag, 13 Mei. Die seniors klim in die ring op Saterdag, 14 Mei. Die volkontak en K-1-gevegte, 'n vermenging van Oosterse gevegskuns, vind in 'n aparte saal plaas.
"Ons is veral dankbaar dat die Covid-19-maatreëls verslap is. Met die geen kontak-reël, kon ons skopboksers nie oefen en aan kompetisies deelneem nie. Nou kan ons ook meer toeskouers akkommodeer," berig een van die organiseeders.
"Ons is baie opgewonde om die kampioenskap in Mosselbaai aan te bied. Ons deelnemers het gevra dat dit by die see gehou moet word en omdat ons elke tweede jaar Suide toe kom, was dit die voor die hand liggende keuse," verduidelik die organiseerders.
Hulle kampioenskap in 2019 wat op Oudtshoorn gehou is, was 'n reusesukses. Dit skryf hulle toe aan goeie samewerking met die munisipaliteit – 'n resep wat hulle glo in Mosselbaai selfs meer effektief kan wees
"Omdat skopboks 'n amateursport is, is ons afhanklik van borge. Ons het veral behoefte aan 'n borgskap vir deelname-medaljes," berig een van die organiseerders.
Vir meer inlingting, besoek https://www.kickboxers.co.za/ of die SAKA blad op Facebook. Of stuur e-pos na sean@sasportsleague.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'