SPORTNUUS - Mosselbaai se top potspelspeler, Danie Swart, het uitstekend gevaar in beide die Suid-Afrikaanse 8 Bal- en Swartbal-kampioenskap wat gedurende Junie en Julie in Saldanha plaasgevind het.
Swart het vierde individueel geëindig in die 8 Bal Potspel-kampioenskap, en is gekies vir die SA Meesters Protea-span wat in 2023 by die Afrika- en Wêreldkampioenskap in Marokko gaan deelneem.
Sonja Swart is aangewys as die bestuurder van die SA Meesterspan.
'n Merkwaardige prestasie en 'n eerste vir Mosselbaai. Sy was ook die bestuurder van die provinsiale spanne van die Wes-Kaap 8 Bal Potspel-span en van die Wes-Kaap Swartbal-span wat die SA kampioenskap in Saldanha gewen het.
Danie Swart gaan Suid-Afrika ook by die Wêreldkampioenskap verteenwoordig, wat in Oktober in Ierland plaasvind.
Swart beklee tans sewende posisie in die wêreld en wil dit graag verbeter met sy deelname in Ierland.
Swart het by die Swartbal-kampioenskap in Saldanha as top presteerder geëindig en beklee die nommer een posisie in die meesters-afdeling. Hy is ook vir die SA Protea-span gekies wat in 2023 in 'n toetsreeks teen Australië, Skotland en Wallis gaan meeding.
Swart was ook deel van die Wes-Kaap Swartbal-span wat vroeër vanjaar die SA kampioenskap gewen het.
Die Mosselbaai Potspel-liga floreer in Mosselbaai en het heelwat hoë kwaliteit spelers.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'