MOSSELBAAI NUUS - 'n Volmaakte Bestmed Straatmylreeks kan vandag, Vrydag 21 Desember, in Hartenbos in dié reeks se geskiedenis opgeskryf word.
Ryan Mphalele (Tembisa klub) het Maandag, 17 Desember 'n skitterende sub vier droommyl (3:56.04) tydens die reeks se Klein Karoo-straatmyl op Oudtshoorn, die eerste van drie in die reeks gehardloop.
Op Woensdag, 19 Desember, tydens die tweede been van die reeks, die NMU-straatmyl, het hy vir 'n opskudding gesorg toe hy vir die eerste keer in die reeks se 10-jarige bestaan, in George ook 'n droommyl (3:58:76) gehardloop het.
Vanoggend, Vrydag 21 Desember, kan hy in Hartenbos by die ATKV-been van die straatmmylreeks sy deelname vervolmaak deur dit met nog 'n droommyl af te sluit.
Op Mphalele se hakke sal Jerry Motsau, Ashley Smit en Duwayne Philander wees.
Hulle is ook almal sub vier straatmyl wenners. Hul deelname en kompetisie kan net die aansporing wees vir Mphalele om wel die reeks van drie bene in drie droommyle te voltooi.
Vroue atlete om dop te hou is Thineke Cloete (Maties), Aynslee van Graan (KMPG) en Nadia Potgieter (Garsfontein).
Twee sub-junior atlete wat reeds stempel in die reeks afgedruk het, Corne de Fouw (Monnas) en Christolique McNiel (Maties) sal ook in aksie wees.
Christopher Swart (Waterkloof) is 'n junior atleet om fyn dop te hou.
Uit die SWD-geledere is Lloyd Bosman, Godwin Heyns, Zevian le Roux, Elne Conradie (Hartenbos Drawwers), Jandri Snyders en Sarah Viljoen besig om die Tuinroete se naam hoog te hou.
Die ATKV Hartenbos Straatmyl begin vanoggend om 08:30.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'