MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrika het skoonskip gemaak in die Gus Köllner-hengelkompetisie - drie Mosselbaaiers het 'n aandeel in dié wen gehad.
Die kompetisie is vanjaar in Hentiesbaai, Namibië, aangebied en vind jaarliks tussen dié land en Suid-Afrika plaas.
Chris Barnard, Jacques Snyman en JP Mouton, almal deel van die Triton-hengelklub, het die Namibiërs van 21 to 23 Oktober die stryd aangesê.
Barnard was deel van die Presidente B-span, Snyman deel van die Presidente Meesterspan en Mouton deel van die Ontwikkelingspan.
Behalwe vir sy span se goud het Barnard ook met die prys vir die meeste visse weggestap - hy kon 'n volle 13 inkatrol. Hy sê dit is die tweede keer wat hy Suid-Afrika op 'n internasionale vlak verteenwoordig en reken dit was sy beste toernooi tot op hede. Hy het elkeen bedank wat hom ondersteun het en dié geleentheid vir hom moontlik gemaak het.
Chris Barnard met een van sy vangste in Namibië.
Snyman het op sy beurt, tesame met die spangoud, ook die grootste oneetbare vis vir die toernooi gevang: 'n platneussewekiefhaai (ook bekend as 'n koeihaai) van 37 kg.
Jacques Snyman met sy platneussewekiefhaai, ook bekend as 'n koeihaai.
Vir Mouton was dit 'n eerste keer in Namibië. Saam met sy span se goue medalje is dit nie 'n ervaring wat hy gou sal vergeet nie. Hy sê die toernooi was taai, maar alles het gelukkig mooi in plek geval.
JP Mouton met ’n kabeljou wat hy gevang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’