Gallery
MOTORNUUS - Die SWD-ovaalbaankampioenskap, die Cobra Tech Summer Slam wat twee weke gelede in Oudtshoorn gehou is, het sowat 50 motors gelok, en in al agt klasse was daar hope aksie.
Die ontwikkelingsklas vir beginners is oortuigend deur Shaun Rheeder met sy haastige VW Golf gewen, gevolg deur Christo Beneke met sy VW Polo.
Die woelige 1660-klas is deur Tiaan Oliphant verower en tweede was die spietkop van Mosselbaai, Wayne Skinner met Bernard Wessels derde. Al drie het met VW Golfies gejaag.
FOTOGALERY: SWD-ovaalbaankampioenskap in Oudtshoorn
Die Heavy Metal-klas het net twee inskrywings gelok. Gevolglik het die twee BMW's aan die agterkant van die V8-klas deelgeneem. Leno Muller het omtrent heelaand met sy BMW gesukkel, maar desnieteenstaande steeds 'n tweede plek behaal. William Steyn het met sy BMW 'n puik oorwinning in die Heavy Metal-klas losgejaag.
Die V8-klas het behoorlik gekook. Hier was volop aksie tussen die manne en Nadia Jubber en die jaers het mekaar lekker rondgestoot.
Wedrenne is soms gestop, waarna die klerk van die baan hard met die drywers gepraat het.
Al die jaers is selfs eenkeer kuipe toe gestuur om te gaan afkoel.
Die klas is uiteindelik skitterend deur Theuns Eksteen in sy Chev Flexi gewen. Tweede was Lucius Fourie met sy pragtige Nissan V8 Flexi en in derde plek was HJ Eksteen, ook in 'n Chev Flexi.
Die jong kannetjies in die Mini's was 'n groot gunsteling by die toeskouers. Die klas is deur Divan Meyer gewen met Ziaan du Plessis in die tweede plek.
Die 2.1-klas is maar altyd opwindend, en seker die vinnigste klas. Dit is deur Henties de Villiers met sy Opel Corsa gewen. Tweede was Christopher Burisch en derde Michael Sintclair, albei ook in Opel Corsas.
Henties de Villiers het weereens die 2.1-klas syne gemaak in sy super vinnige Opel Corsa.
Die opwindende Hotrod-klas is deur Tjaart Slater van Bloemfontein in sy rotoraangedrewe Opel Corsa gewen. Agter hom was Charl Walters, ook met 'n rotoraangedrewe Opel Corsa en derde was Clive Meyer in nog 'n Opel Corsa.
In die Stockrod-klas het Clarizka Havenga in 'n VW Golf die botoon gevoer. Tweede was Jacques Snyman in sy VW Golf met Martin Diener derde in 'n VW Jetta.
Die junior Hotrod-klas het ook sy kwota aksie gehad. Die VW Golf van Theuns Eksteen het in die tweede uitdun kontak gemaak met 'n ander motor, die muur getref en sy hele motor het deur die lug gevlieg. Die Golfie het skade gehad, maar gelukkig was net die drywer se ego gekrenk. Die klas is deur Zanco Els in 'n VW Golf gewen. Tweede was Nadia Rautenbach in 'n Ford Fiesta, met Hannes Erasmus derde in 'n VW Golf.
Die drywer van die dag was Lucius Fourie en die 'bad luck'-trofee is toegeken aan Nicky Koegelenberg.
Nadia Rautenbach in haar netjiese Ford Fiesta het die toekenning gekry as Beste Voorbereide motor vir die dag, en 'n puik tweede plek in die Junior Hotrod-klas losgejaag.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'