MOTORNUUS - Die lang pad agter op 'n BWM GS1200 motorfiets is gerieflik, maar die verkeerde toerusting kan dinge steeds ongemaklik maak.
Gesoute passasiers en bestuurders behoort dié soort haakplekke reeds te kon uitstryk. 'n Paar eenvoudige wenke mag dalk help om jou volgende rit as passasier meer gerieflik en genotvol te maak.
Met 'n toer vanaf Johannesburg deur die Karoo na George, het ek besef dat langpad-toer heelwat anders as 'n kort "brekfis-run" is.
Dit help baie wanneer die bestuurder aan die passasier verduidelik waarom sommige dinge op 'n sekere manier gedoen word. Veral wanneer jy 'n passasier het wat vir die eerste keer agter op 'n ysterperd sit.
Kom ons begin by die kop. My valhelm het nie 'n toestel gehad waarmee ek met die bestuurder kon kommunikeer nie. So 'n toestel vergemaklik enige rit. Ek het weer besef hoe belangrik oorpluisies is. Dit maak nie saak of jy net 50 km teen 100 km/h ry nie. Jou ore sing van die windgeraas en jou kop voel sommer dof wanneer jy jou valhelm afhaal. Om musiek deur oorfone te luister werk, maar dan sukkel julle weer om mekaar te hoor.
Belê in 'n somerbaadjie. Hoewel ek my baadjie se warm binnekant uitgehaal het, is die baadjie met waterdigte plastiek aan die binnekant bedek. Baie lekker beskerming wanneer dit reën, maar geen grap wanneer jy teen 40 grade deur die Karoo ry nie. Om te keer dat my arms nie aan die baadjie se binnekant vasplak nie, het ek 'n dun langmouhemp onder aangetrek.
Almal moet minstens eenmaal Nieu-Bethesda en die bekende Uilhuis in dié dorp besoek.
Dit is juis waarom 'n goeie tydskedule handig te pas kom en 'n mens daarby moet hou. Wanneer die roete jou deur die Karoo neem, ry liefs vroegoggend of enige tyd na 15:00. Sonsteek en dehidrasie lê en wag vir jou gedurende die hitte van die dag.
Tyd het ons ingehaal en ons moes elke 50 km stop om water te drink en asem in die warm koelte te skep terwyl ons deur die Karoo gereis het. Die warm Karoowind koel jou beslis nie af nie!
Sorg vir genoeg tyd in om veral langs bergpasse foto's te neem. Potjiesbergpas is op die N9 nasionale pad noord van waar die R62 uit die ooste by die N9 aansluit. Die pas is ongeveer 15 km suid van Uniondale en bereik 'n hoogte van 910 m bo seespieël.
'n Gewone denimbroek is nie so gemaklik nie. Motorfietsbroeke is koeler, bied beter en baie belangrike beskerming. 'n Denim se broekspype is nouer en dit voel of jou bloedsomloop toegedruk word.
Somerhandskoene help dat jou hande vinniger afkoel, wat jou hele lyf ook koeler hou. Goeie absorberende langkouse is noodsaaklik, veral wanneer beskermende motorfietsskoene die enkels bedek. Druk iewers 'n paar plat plakkies in sodat jou voete kan droog word en asemskep wanneer jy iewers vir 'n wyle stop. Dit neem baie min plek op en jou warm tone juig sodra jy hulle in die plakkies indruk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'