MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se munisipale bestuurder en senior bestuurders se prestasie-evaluerings en daaropvolgende bonusse het onlangs voor die raad gedien.
Volgens die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels moet prestasie ooreenkomste met personeel op dié vlak gesluit word - die ooreenkomste word jaarliks goedgekeur.
Die direkteure vir korporatiewe dienste, infrastruktuur dienste, beplanning en ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapsdienste is almal geregtig op 'n 8.33%-bonus, mits hulle 70% of meer kry vir hul prestasie-evaluerings.
Die direkteure vir finansiële dienste en gemeenskapsveiligheid, asook die munisipale bestuurder is geregtig op 'n bonus van 14%, mits hulle 70% of meer vir hul prestasie-evaluerings kry.
Tydens die raadsvergadering op 28 November is daar verduidelik dat die verskil in dié bonuspersentasies bestaan weens die spesifieke wetgewing wat gedurende die sluiting van daardie kontrakte in plek was.
Al die relevante direkteure, asook die munisipale bestuurder het die 70% merk gehaal.
Die bonusse se gesamentlike koste is R1 094 784.95. Dit is 0.28% van die totale personeel verwante kostes wat die munisipaliteit aangaan.
Die evaluerings is as volg:
Munisipale bestuurder (Colin Puren): 89%
Direkteur: Korporatiewe dienste (Annette Potgieter): 78%
Direkteur: Beplanning en ekonomiese ontwikkeling (Carel Venter): 94%
Direkteur: Finansiële dienste (Orlando Fredericks): 81.9%
Direkteur: Gemeenskapsveiligheid (Graeme Lategan): 74.98%
Direkteur: Infrastruktuurdienste (Dick Naidoo): 85.8%
Direkteur: Gemeenskapsdienste (Elize Nel): 84.4%
Alle partye behalwe die ANC het die item goedgekeur. Dié party het gekies om hulle te weerhou van die stemming. Hulle meen die munisipaliteit se direkteure doen nie genoeg om in ANC-wyke na die gemeenskap se behoeftes om te sien nie.
Daar was 'n oor en weer bespreking tussen die DA en ANC rakende dié punt met die DA wat meen dit is nie die geval nie.
Daar is ook voorbeelde gegee, maar die ANC het volstaan daar is baie areas in hul wyke wat aandag benodig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’