Video
MOSSELBAAI NUUS - Die roete op die St Blaize-wandelpad na die tonnelgrotte is weer toeganklik vir die publiek.
Lank voor die nou befaamde grotte by Pinnacle Point internasionale aansien verkry het, het die Mosselbaaiers van ouds gereeld by die tonnelgrotte uitgespan.
Oral in die dorp was destyds kennisgewingsborde wat besoekers die pad na dié indrukwekkende grotte gewys het, en die voetpaadjie daarheen was blink geloop en goed in stand gehou.
Een van die grootste uitdagings van die Erfenisvereniging was juis om dié interessante natuurskat weer aan die hedendaagse publiek bekend te stel.
Die Mosselbaai munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het onlangs sy vryetyd opgeoffer om persoonlik die roete oor naweke te ontbos sodat dit weer vir stappers toeganklik kan wees.
Op Vrydag, 1 September is die roete amptelik deur adv Giliomee en 'n voormalige raadslid, Nicky Lodewyks, geopen. Sowat dertig stappers het vroegoggend die 3km-roete na die tonnelgrotte aangepak. Lodewyks sê die heropening van die tonnelgrotte beteken vir hom persoonlik baie.
"Ek het op Mosselbaai grootgeword. Daar was nie selfone of rekenaars nie en ons het by die tonnelgrotte visgevang." Lodewyks waarsku stappers om die gety in ag te neem.
Stappers ontdek die tonnelgrotte. Foto: Theo Oosthuizen
Sien video hieronder.
"Sodra jy deur die tonnegrotte is, kom jy by die anderkant uit. Wat meeste mense nie weet nie is dat daar stalaktiete hang." Hoewel Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal onlangs 'n rugoperasie ondergaan het, het ook hy die geleentheid gebruik om Mosselbaai se natuurskoon langs die St Blaize-wandelroete opnuut te waardeer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'