MOSSELBAAI NUUS - Die Vista Rolbalklub op Klein-Brakrivier het Maandag, 23 September, onder inbrekers deurgeloop.
Die inbraak is die volgende dag deur die klub se perkopsigter ontdek terwyl hy besig was om van die gesnyde gras ontslae te raak.
Hy het voetspore op die grond opgemerk, wat hom na 'n gebreekte venster gelei het.
Verskillende items is gesteel. Dit sluit in twee televisies, rolbalballe en 'n rolstoel, wat aangepas is om rolstoelgebonde spelers in staat stel om aan byeenkomste en kompetisies deel te neem. Die inbraak en roof is by die owerhede aangemeld deur die klub se president, Deona Cooke.
Die volledige lys van gesteelde items behels:
Twee 43'' Samsung televisies, 'n skeidsregter-sak met meet-toebehore, 'n spieël, twee buite-luidsprekers vir 'n klankstelsel, twee buite-sonkragligte, een rolstoel spesiaal ingerig vir rolbal-doeleindes, een ekstra rolbalsak, plus 'n sakoortreksel en 'n reënjas, en een sak met vier grasperk-boulballe wat vir afrigting gebruik word.
Die gesteelde grasperk-boulballe sluit in:
1. Vier maroen en room Hensellite Dreamline rolbalsakke, 'n reënjas, domkrag en meettoerusting.
2. Vier rooi Drake Pride Professional nommer een rolbalballe, met oranje kolletjies, in 'n vlootblou sak op wiele, 'n reënjas, hoed en meettoerusting.
3. Vier wit Drakes Pride Nova-rolbalballe, met blou kolletjies en 'n embleem van 'n klein voeltjie in 'n nuwe sak op wiele, reënjasse en toerusting.
4. Vier swart 0H rolbalballe met 'n schnauzer-hondembleem in 'n rolbalsak.
George Nezar, bestuurder van Gleniqua Properties en eienaar van die spesiale rolstoel, sê dit is nogal ontstellend vir hom omdat die tipe rolstoel ongelooflik duur is en van die buiteland aangekoop moet word.
Die Groot Brak-polisie sê die saak word nog ondersoek en niemand word nog verbind met die insident nie.
Die Vista Rolbalklub pleit by die Klein Brak en Mosselbaai-gemeenskap om die gesteelde items, maar veral die rolstoel (dik swart bande en die bekleedselkleur van "khaki") by die owerhede aan te meld sou hulle dit sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’