HARTENBOS NUUS - ’n Voormalige skoolhoof van Laerskool Hartenbos, Daniel Petrus Ackerman (Danie), is op 4 Februarie op 88-jarige ouderdom oorlede.
Ackerman het vir 22 jaar, van 1972 tot 1994, as skoolhoof aan die stuur van Laerskool Hartenbos gestaan en het ’n sleutelrol in die groeifase en ontwikkeling van dié instelling gespeel.
Sy betrokkenheid en toewyding het daartoe bygedra dat Laerskool Hartenbos oor die jare gegroei en versterk het.
As ’n blyk van waardering is ’n geskiedenislokaal en ’n rugbyveld by Laerskool Hartenbos na hom vernoem.
Geliefdes en oudkollegas het die afgelope week aan Mossel Bay Advertiser gesê dat Ackerman hom gedurende sy dienstydperk as ’n hardwerkende en wyse leier onderskei het, wat projekte met dryfkrag aangepak het.
Sy seun, Tertius, sê sy pa was lojaal aan die skool en die Hartenbos-gemeenskap, en het ’n blywende indruk op kollegas, leerders en ouers gemaak.
Ackerman het ’n besondere liefde vir sport gehad en was bekend vir sy uitstekende vermoë met hoofrekeninge.
Danie Ackerman by die rugbyveld wat na hom vernoem is.
In Maart verlede jaar het hy die skool weer besoek, ’n geleentheid wat volgens naasbestaandes die wêreld vir hom beteken het. Die besoek is deur ds. Henk Brits gereël, en hy is hartlik deur die skoolgemeenskap en die huidige skoolhoof, Werner van Huyssteen, ontvang.
Ackerman het die afgelope twee jaar by die Bardolino-dienssentrum in Diazstrand gewoon.
Hy word oorleef deur sy twee seuns, Tertius en Daniël. Sy vrou, Daphne, is 11 jaar gelede oorlede.
“My pa laat ’n groot leemte in sy familie en in die breër Hartenbos-gemeenskap.
Hy sal onthou word as ’n toegewyde opvoeder, lojale gemeenskapsman en goeie vriend vir baie. Mag hy sag rus,” het Tertius gesê.
’n Gedenkdiens vind Saterdag 14 Februarie, om 14:30 by die Bardolino-dienssentrum plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’