Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vissermanstories word gewoonlik met 'n knippie sout geneem, maar soms is daar heelwat meer om die lyf. Veral wanneer dit op die waarheid gebaseer is en dit gelei het dat 'n hengelvriend op heldhaftige wyse uit die see gered word.
Die 75-jarige Vossie Vosloo van Mosselbaai, was jare gelede vir 25 jaar verbonde aan die Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie (SASP) waar hy ook 'n lid van die hengelklub was en daar gereeld aan kompetisies deelgeneem is.
In die jare 80 het hulle aan 'n kompetisie deelgeneem, wat tussen Groot-Brakrivier en George plaasgevind het. Hy en sy vriend, Boetie Gericke, het dié betrokke Saterdag ná registrasie om 06:00 hul uitsoekplekkie bereik en begin hengel. Die branders was hoog maar dit het nie gepla aangesien hulle veilig gevoel het.
"Ons was op 'n hoë rots wat baie hoog bo die watervlak was en langs ons was 'n riviertjie," vertel Vosloo. "Ander hengelaars was ook reeds in die omgewing en nie lank ná ons begin hengel het, het Boetie 'n haai aan die lyn gekry.
"Soos dit deur 'n spanmaat verlang word, het ek begin afbeweeg van die rots om met die gaffel (gaff) die haai te haak en uit te sleep," vertel hy. "Ek het skaars 'n paar meter gevorder toe voel dit asof iemand 'n mat onder my voete uittrek en beland ek in die water," vertel hy.
Dieper ingetrek
Vosloo is van die rots deur 'n brander geslaan en het in die rivier beland en tot op die bodem afgesak. Hy het vinnig na die oppervlak gespartel en gedink die branders sal hom uitstoot, maar die teenoorgestelde het gebeur. Gelukkig sonder enige besering, is hy deur 'n stroom dieper die see ingetrek. Sowat 50m van waar hulle vis gevang het, het hy begin water trap en daarteen besluit om ontslae te raak van sy oorpak.
Hy sê dit het deur sy kop gemaal omdat hy al televisie programme gesien waar daar juis van die swaarder toerusting ontslae geraak word om dan in die onderklere te probeer uitswem. Die water was te rof en hy het gereken dat die branders hom teen die rotse gaan verniel en daarom het hy besluit het sy oorpak aan te hou.
"Dié besluit het heelwaarskynlik bygedra om my lewe te red. Daar in die water werk jou kop oortyd en dink jy aan jou vrou en kinders, wat gaan hulle doen sonder jou, waar gaan jy uitspoel of gaan jy aan die rotse vassit en waar gaan hulle jou begrawe."
Gericke het egter kalm gebly, die haai van sy hoek afgehaal en dadelik met groot akkuraatheid die lyn tot by Volsoo gegooi. Hy vertel dat hy die lyn al om sy arm en lyf gedraai het en seker gemaak hulle verloor hom nie.
Inkatrol
Gericke het hom begin inkatrol, maar die rots was te steil. Met die inkatrol en gespook met die branders, het Vosloo intussen 'n hele paar goeie happe seewater gesluk en was hy baie moeg.
Gericke en van die ander hengelaars, wat intussen kom help het, het 'n klomp gaffels aanmekaar vasgemaak en dit na Vosloo laat sak. Hy was egter te swak en die gaffels het uit sy hande gegly.
Met nog 'n stel gaffels en uit noodlot het die manne op die kant besluit dat 'n ander plan bedink moes word. "Hulle hak toe die een verlengde gaffel deur my kuit en oorpak en die ander deur die kraag van my oorpak. Met moeite is ek uitgehaal en het hulle my dadelik op my sy gedraai en op die rug geslaan om al die water uit my longe te kry. Ná ongeveer 'n uur het ek beter gevoel en het ons besluit om eerder op te pak en huis toe te gaan."
Nou jare later en nie meer verbonde aan die SASP en later jare se sekuriteitswerk by PetrosSA (destyds Mossgas), bedryf hy en sy vrou, Doreen, 'n tuindienste besigheid. Hulle gaan vang so nou en dan nog vis, maar sorg altyd dat 'n paar gaffels deel van die toerusting is!
Video - Hengelaars vang hengelaar (Video: Jannie du Plessis).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’