Rolspelers is dit eens dat Mosselbaai een van die beste vakansieseisoene tot nog toe beleef het en besoekersgetalle was beslis beter as ander jare. Volgens Mosselbaai se munisipale bestuurder, dr Michele Gratz, was die seisoen een van die besigste tot nog, dog gekenmerk aan weinig insidente.
Anders as ander munisipaliteite was Mosselbaai se munisipale amptenare tydens die feesseisoen aan diens om die talle uitdagings van beskadigde of defektiewe infrastruktuur, netheid en wetstoepassing op strande, strandveiligheid en verkeersvloei, om maar enkeles te noem, te hanteer.
'n Seisoenmoniteringskomitee het oudergewoonte daagliks vergader om probleme aan te spreek. Bestaande uit senior munisipale amptenare en verteenwoordigers van die SAPD en die SAPD watervleuel, die ATKV, Mosselbaai Toerisme, Provinsiale Verkeer, die lewensredderdiensverskaffer en die verteenwoordiger van die verkeerspunt- en sekerheidsdienste, het die komitee probleme onmiddellik aangespreek.
Die omvang van die Mosselbaai munisipale gebied en veral die uitgestrekte kuslyn het verskeie uitdagings gebied en veral die verkeersdruk het spesiale aandag geverg.
Inwoners en vakansiegangers het wetstoepassers en amptenary se taak geensinds vergemaklik nie en daar is wel probleme ondervind met onwettige rommelstorting, besoedeling van strande, vandalisering van munisipale eiendom, beveiliging van strande teen misdaad, die voorkoming van drankgebruik op strande, verkeersoortredings en die handhawing van algemene wet en orde.
Toegewings
Munisipale wetstoepassers het talle toegewings gemaak in gevalle waar motoriste onwettig parkeer het.
"Slegs in gevalle waar voetgangers of die publiek deur onwettige parkering in gevaar gestel is, het wetstoepassers boetes uitgereik. Daar is daarop gekonsentreer om Mosselbaai 'n toeriste-vriendelike bestemming te maak," berig die munisipale bestuurder, dr Michele Gratz.
Desondanks het wetstoepassers hul hande vol gehad met onwettige diere op strande, onwettige smouse, pogings om alkoholiese drank na die strande te neem, en veral die onwettige gebruik van vuurwerke in die munisipale area. Dit het ook nie aan vindingrykheid ontbreek nie, en wetstoepassers moes veral oplet na opportuniste wat probeer het om drank op strande vroegdag te begrawe ten einde dit saans daar te kan gebruik.
Besigheid
Besighede in veral die informele handel het uitstekend gevaar en die Goods Shed handelaars is verheug oor 'n uitstekende seisoen. Die Goods Shed is 'n toeriste- en kleinsake ontwikkelingsinisiatief wat deur die Mosselbaai Munisipaliteit ondersteun word.
Dr Gratz het bygevoeg dat sakelui met wie sy geskakel het hul tevredenheid met goeie handel uitgespreek het.
Toerisme
Navorsing deur Mosselbaai Toerisme wat 12 Desember tot 4 Januarie onderneem is, het interessante tendense uitgewys, onder meer dat die meeste respondente sonder kinders gereis het. Vakansiegangers in Mosselbaai het daarenteen oorwegend as 'n familie met twee of drie kinders die Suid-Kaap besoek. Verdere navorsing word tans onderneem.
Hoewel woonwaparke skaars plek vir 'n muis gehad het, het navorsing aangedui dat slegs sowat 10% van vakansiegangers gekamp het. Daarteenoor het 31% in selfsorgeenhede oorgebly, 16.3% het by vriende of familie tuisgegaan en 11.4% het in gastehuise gebly. Slegs 6.5% van respondente het hotelverblyf verkies en amper 3% het in backpackers tuisgegaan. Sowat 7% het in hul eie vakansiehuise oorgebly.
Buitelanders het 26% van toeriste uitgemaak en die gros van binnelandse toeriste (34%) het van Gauteng gekom. Hiernaas het die Vrystaat 18%, Wes-Kaap 13% en Noord-Kaap 10% tot die toeristegetalle bygedra.
"Hierdie statistieke toon dat Mosselbaai as beskostigbare bestemming met 'n goeie verskeidenheid verblyffasiliteite beskou word," aldus me Marcia Holm van Mosselbaai Toerisme.
Me Holm berig dat toeriste wel oor verkeersdrukte veral by winkelsentrums gekla het, maar dat kommentaar andersinds oorwegend positief was en dat die dorp se netheid en uitstekende fasiliteite en die diensstandaarde van die Mosselbaai Munisipaliteit veral positiewe kommentaar ontlok het.
Blouvlagstandaarde
Internasionale standaarde en kriteria geld op Blouvlagstrande en onaangekondigde inspeksies deur verteenwoordigers van die Foundation for Environmental Education, die sertifiseringsorganisasie vir Blouvlagstrande, is deurgaans gedoen om seker te maak dat nie van die standaarde op Mosselbaai se vier Blouvlagstrande afgewyk word nie.
Al Mosselbaai se Blouvlagstrande het hierdie jaar vyfsterstatus ontvang. Blouvlagstrande moet aan meer as 20 internasionale kriteria voldoen om vir hierdie prestige toekenning te kwalifiseer.
Goedkeuring vir bedrywighede
Funksies wat munisipale goedkeuring verg en persone wat funksies of bedrywighede onwettig aangebied het, het eweneens 'n groot uitdaging gebied.
"Baie van die funksies vereis ingevolge wetgewing en regulasies dat die relevante goedkeuring betyds bekom moet word. Die munisipaliteit is nie 'n pretbederwer as aangedring word op genoegsame tyd om te verseker dat aan veiligheidsvereistes, verordeninge, omgewingsgoedkeuring en ander magtigings voldoen word alvorens munisipale magtiging vir aansoeke toegestaan kan word nie, maar tree verantwoordelik en in belang van die gemeenskap op," berig dr Gratz.
Ook die afgelope seisoen is talle uitdagings ondervind met sakelui wat groot uitgawes aangegaan het vir bedrywighede sonder die nodige voorafmagtiging.
"Ons doen 'n beroep op besighede en sakelui om in die toekoms te verseker dat hulle betyds om magtiging aansoek doen sodat daar nie verliese gely of teleurstellings voorkom nie, versoek dr Gratz.