MOSSELBAAI NUUS - 'n Onlangse inskrywing op een van Mosselbaai se mees gewilde sosialemediabladsye oor die geraasbesoedeling wat deur motorfietse wat om die Punt ry veroorsaak word, het kort nadat dit geplaas is, bykans 200 kommentare ontlok.
Hoewel nie al die inskrywings negatief was nie, is dit duidelik dat die irritasie wat deur 'n kampeerder op besoek aan die Punt-karavaanpark ervaar word, gedeel word deur besigheidseienaars aan die onderpunt van Marshstraat, naby Milkwood Primêre Skool.
Dit blyk egter uit terugvoering van die Mosselbaai-munisipaliteit asof wetgewing met betrekking tot die beweerde geraasoorlas, nie genoeg byt het om die geraasmakers aan bande te lê nie.
Nie maklik vervolgbaar
Volgens die hoof van gemeenskapsveiligheid, Henry Williamson is sy kantoor bewus van die spesifieke klagte en het hulle daarop reageer.
"Met die beamptes se aankoms was daar egter geen motorfietse gevind wat geraasoorlas pleeg nie. Slegs twee motorfietse is geparkeer aangetref tydens die ondersoek," berig Williamson.
Williamson het, aan die hand van regulasie 209 van die Nasionale Padverkeersregulasies, 2000 soos vervat in die Nasionale Padverkeerswet, verder uitgebrei.
"Kragtens hierdie regulasie moet motorfietse voorsien wees van 'n voldoende knaldemper. Indien twyfel bestaan of dit voldoen aan die voorgeskrewe regulasie, kan 'n motorfiets, in terme van die Padverkeerswet, aan 'n geraasmetingtoets onderwerp word."
Dit behels dat die motorfiets deur 'n geakkrediteerde ondersoeker van voertuie nagegaan en 'n desibelmetertoets verrig moet word. Die toets moet gedoen word op 'n terrein waar genoegsame oop ruimte bestaan, sodat die klank- en desibeltoets nie deur nabygeleë geboue wat die klank reflekteer, beïnvloed word nie. Williamson het gesê dat motorfietsenjins danksy die jongste tegnologie hoë revolusies voortbring wat wel binne die voorgeskrewe geraaspeiling resorteer. Dit kan egter nie buite rekening gelaat word dat "moedswilligheid onder motorfietsryers dikwels die geraasoorlas veroorsaak" nie, aldus Williamson.
"Terwyl 'n motorfiets in beweging is, is daar geen bepaling in die Wet op Geraasbeheer wat 'n oortreding daarstel met betrekking tot die uitlaatstelsel nie. Die vereiste meting van geraasbeheer behels dat die geraasoorlas vir 'n tydperk van 10 minute ononderbroke moet plaasvind. Boonop moet dit getoets word vanaf die ligging vanwaar die geraas ervaar word."
Volgens Williamson is dit dus in terme van die bestaande wetgewing in baie gevalle nie moontlik om vervolging in te stel nie. Geraas word dikwels ook as harder ervaar deur die menslike oor, as dit tussen geboue of rotswande plaasvind waar die klank gereflekteer word. Dat motorfietsryers wel hulle knaldempers verwyder, is volgens Williamson, nie uitgesluit nie.
"In so 'n geval is dit 'n oortreding van die wet wat deur 'n verkeersbeampte aangespreek kan word. Verkeersdienste neem kennis van die klagtes en sal bedag wees daarop."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'