Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Waar vennootskappe die beslag vir samewerking vorm, is daar sukses. Dit blyk duidelik uit die sukses van Die Skarrelhuisie op Groot-Brakrivier, 'n werksoekersprojek wat verlede week sy eerste verjaarsdag gevier het.
Die projek is op 3 Oktober 2022 begin danksy samewerking tussen die Mosselbaai-munisipaliteit, die Wyk 4-wykskomitee, die Groot-Brakbelasting-betalersvereniging, asook ander organisasies soos die Rotariërs.
FOTOGALERY: Die Skarrelhuisie op Groot-Brakrivier
Die gemeenskaplike doelwit is om die kwessie van werksloosheid aan te spreek.
In 'n jaar se tyd, spog Die Skarrelhuis daarmee dat 7 208 werksoekers danksy dié projek met 'n werksgeleentheid geholpe geraak het.
Die inisiatief het onstaan vanweë uitdagings wat ervaar is rakende werk-soekers wat op die hoek van Langstraat en Sandhoogtepad saamgedrom het. Werksoekers was aan wind en weer blootgestel, het geen toegang tot ablusie-geriewe gehad nie en die op- en aflaaiery het dikwels 'n verkeerstoornis veroorsaak.
By Die Skarrelhuis word werksoekers op 'n databasis geplaas waarin hulle besonderhede en vaardighede ook vervat word. Werkgewers kan dus danksy Die Skarrelhuis, volgens hulle behoefte betroubare arbeid verkry. Ook vakansiegangers maak geredelik van Die Skarrelhuis se dienste gebruik. Die vaardighede sluit 'n verskeidenheid onder meer tuin-, bou- en verfwerk, asook skoonmaakwerk in. Tot dusver is 1 520 persone op die databasis geregistreer en is daar 5 301 werksgeleenthede vir mans, en 1 535 werksgeleenthede vir vroue geskep.
Vooruitsigte
Vandeesweek, op Donderdag 12 Oktober, is daar verjaarsdag by Die Skarrelhuis gevier terwyl projekvennote en raadslede, wat die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé ingesluit het, gesellig saam met werksoekers kon kuier.
"Die Skarrelhuisie is die afgelope jaar werklikwaar omring met seëninge van Bo," het raadslid Annatjie Janse van Rensburg van Wyk 4 gesê. "Ek het die werksprojek by die Wes-Kaapse SALGA-vrouekommissie se Lekgotla voorgelê en dit is baie positief ontvang."
Sy is van mening dat werkloosheid 'n wrang realiteit is en daarom kan "Skarrelhuisies", wat volhoubaar bestuur word, elders in die land ook van waarde wees.
Volgens Sonja Pelser, tans die administratiewe bestuurder van Die Skarrelhuisie, is dit geweldig bevredigend om werksoekers te kan help. Sy en haar regterhand, Colleen Kowie, is die afgelope agt maande by Die Skarrelhuisie werksaam.
"Die geleenthede wat geskep is, het individue 'n kans gebied om hul doel, stabiliteit en waardigheid te herwin. Die positiewe effek van hierdie werksgeleenthede word gevoel deur verskeie sektore, van vervaardiging en tegnologie tot gesondheidsorg en gasvryheid. Ons gemeenskap het getoon dat dit kan aanpas en ontwikkel deur nuwe bedrywe te aanvaar en geleenthede vir groei en voorspoed te skep."
Tans het Die Skarrelhuis sy ondersteuning aan werksoekers uitgebrei deurdat 'n broodjie soggens, danksy 'n skenking, voorsien word.
"Dit sal vir ons 'n groot hulp wees indien enigiemand aan ons 'n yskas kan skenk. Met die warmer weer wat voorlê, moet ons verhoed dat die brood wat ons eenmaal per week ontvang, bederf. 'n Yskas sal 'n groot verskil maak," versoek Pelser.
Dit word ook in die vooruitsig gestel dat verdere opleiding deur privaat persone aan van die werksoekers gebied sal word, veral met die fokus op ondersteuning binne die gasvryheidsindustrie.
Die projek strek meer as net die werksoekers tot voordeel. Finansiële stabiliteit veroorsaak 'n opswaai in die plaaslike ekonomie en die vermindering in werkloosheid verlig die las op sosiale welsynsprogramme.
"Erkenning moet gegee word aan die gesamentlike pogings van verskeie belang-hebbendes wat tot hierdie projek se sukses bygedra het. Vennootskap, iets waarin ons as plaaslike regering baie sterk glo, was instrumenteel in die skep van 'n omgewing wat bevorderlik is vir werksgroei. Die groei in werkskepping het beslis verwagtinge oortref en bygedra tot 'n golf van positiewe verandering teweeggebring. Die hoop, waardigheid en stabiliteit van individue en gesinne is herstel," het die burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé gesê.
Gesprekke is reeds aan die gang om vaardigheidskursusse in onder meer dag- en tuisversorging te bied. Daar is ook weer eens 'n veldtog om vakansiegangers van Die Skarrelhuis se funksie in kennis te stel met die oog op die seisoentyd voor hand. Die Skarrelhuis is vanaf 06:15 -12:00 op weeksdae oop en 07:00 - 10:00 op Saterdae.
Die Skarrelhuis se kontaknommer is 071 537 8317 of stuur 'n e-pos naskarrelh@gmail.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’