MOSSELBAAI NUUS - Ná verskeie onlangse voorvalle in die Diasstrand-area is daar op Sondag, 23 Maart, 'n voorbeeld gemaak van 'n handsakdief.
'n Vrou is omstreeks 13:00 in die omgewing van Blue Waters van haar handsak beroof.
Nie lank daarna nie, is 'n gesamentlike soektog geloods wat lede van die polisie, munisipale wetstoepassing, buurtwagte en privaat sekuriteitsmaatskappye ingesluit het.
Volgens sers Chris Spies was die verdagte se vryheid van korte duur. Hy is by Diasstrand vasgekeer, gearresteer en die slagoffer het haar persoonlike items teruggekry.
Mossel Bay Advertiser het vir beide die polisie en Mosselbaai-munisipaliteit gevra hoeveel lede betrokke was by die soektog, of dit algemeen is vir so 'n mag van wetstoepassers om op 'n diefstal te reageer en of dit weens die skynbare toename in misdade in die area is.
Spies sê die ontplooiing van polisielede van Da Gamaskop en Mosselbaai, die seegrenspolisie, openbare orde polisiëringseenheid en ander hulpbronne, vorm deel van deurlopende operasies om gemeenskappe te beveilig.
Verskeie voertuie teenwoordig tydens die soektog. Foto: Mosselbaai-munisipaliteit
Hierdie magte is in die area ontplooi om te verseker dat die publiek veilig is en voel. Meer hulpbronne word ontplooi in misdaadgeteisterde areas as deel van "Operasie Shanela" operasies, wat tussen Donderdae en Maandae uitgevoer word. Omdat die getalle deel vorm van operasionele sake, kan hulle dit nie bekendmaak nie.
Die munisipaliteit sê gedurende die oggendure het vier verkeersbeamptes en twee munisipale wetstoepassingsbeamptes voorstaandiens verrig in die onmiddellike omgewing van Blue Waters, Louis Fourieweg, terwyl die reaksie-eenheid sigbare polisiëringspatrollies te voet in die informele nedersetting, Joe Slovo (bopunt van Blue Waters), verrig het.
Gedurende die soektog was slegs twee lede van die K9-eenheid en twee reaksie-eenheidlede betrokke.
"Die munisipaliteit se munisipale verkeer, asook wetstoepassingsafdeling (bestaande uit die K9-eenheid en die reaksie-eenheid) doen daagliks patrollies met betrekking tot verskeie gemeenskapsveilgheidsfunksies. Bo en behalwe die daaglikse patrollies, word daar uit die aard van die saak aanpassings gemaak aan die hand van tendense opgemerk."
Wetstoepassing vorm deel van die soektog. Foto: Mosselbaai-munisipaliteit
Die munisipaliteit het ook verwys na 'n verklaring wat voorheen deur die polisie uitgereik is wat planne uiteensit om misdaad in die area aan te spreek.
Die munisipaliteit sê verder dat hy reeds etlike jare aan vennootskappe met ander rolspelers in die gemeenskapsveiligheidveld bou ten einde die veiligheid van die gemeenskap te bevorder.
"Die vinnige, geïntegreerde optrede was 'n getuigskrif van goeie samewerking en die begeerte van alle rolspelers betrokke, om kriminele elemente hok te slaan. Die aksie was nodig om die skuldiges vas te trek om potensiële groter misdade te voorkom en om 'n sterk boodskap uit te stuur. Die wetstoepassingskomponent van die munisipaliteit het gereageer op versoek van SAPD."
Gevra of dieselfde teenwoordigheid in die toekoms verwag kan word, sê die munisipaliteit hy is gereeld betrokke by gesamentlike optredes saam met die polisie en ander vennote in die gemeenskapsveiligheidsveld.
"Dié samewerking sal voortduur, soos moontlik. Dit dien gemeld te word dat dit die mandaat is van die SAPD om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek, die openbare orde te handhaaf, die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm en te beveilig, en deel te neem aan pogings om die grondoorsake van misdaad aan te spreek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’