Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai spog hierdie jaar met vyf blouvlagstrande waarvan Klein-Brakrivier strandgebied een van die spogstrande is.
Verskeie rolspelers het Maandagoggend, 9 Desember, op die strand by Klein-Brakrivier bymekaar gekom om die blouvlag, asook die vlag van die Wild- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika (WESSA), te hys.
WESSA se doelwit is om hoë inpak omgewings- en bewaringsprojekte te promoveer vir die bewaring van die aarde.
Ter beskerming van die natuurlike milieu van die see, strand en duine word voorligtingsaktiwiteite ook georganiseer.
Fotogalery: Blouvlagstatus vir Klein-Brakrivier
Teen 2010 is aan meer as 3 450 strande in 41 lande die predikaat blouvlagstrand verleen. Dit is 'n internasionale toekenning aan strande wat hoë standaarde handhaaf wat betref watergehalte, kleedkamers, netheid, strandwagte, omgewingsopvoeding en bestuur. In die bemarking van 'n strandoord as 'n toeristebestemming is die blouvlagstatus van groot belang.
'n Blouvlag is 'n internasionale toekenning wat toegeken word aan strande wat voldoen aan die hoë standaarde. Die streng kriteria vir die program word bepaal deur die internasionale koördineerders van die blouvlag-veldtog in Europa, die Foundation for Environmental Education (FEE). Besoek die 'blouvlag Suid-Afrika' vir meer inligting.
Kyk 'n video hieronder:
Die blouvlag-program fokus nou in die 32ste jaar op die bewaring van marine en kushabitatte, en is ontwerp om omgewingsopvoeding en bewustheid te verhoog en om gesonde omgewingspraktyke onder toeriste, plaaslike bevolking en strandbestuur te verhoog.
Om blouvlagstatus te bereik, moet tot 33 verskillende kriteria wat oor vier aspekte van kusbestuur strek, voldoen word: watergehalte, omgewingsopvoeding en -inligting, omgewingsbestuur, veiligheid en dienste.
Elke blouvlag-terrein is verplig om gedurende die jaar verskeie omgewings- en opvoedingsaktiwiteite uit te voer en effektiewe en doeltreffende bewaringsbestuur te beoefen.
In Suid-Afrika is daar 45 strande met blouvlag-status - 33 in die Wes-Kaap, ses in KZN en ses in die Oos-Kaap. Mosselbaai spog met vyf blouvlagstrande hierdie seisoen, naamlik De Bakke, Santos, Hartenbos, Klein-Brakrivier en Glentana.
Dit is nou die vyfde jaar dat Klein-Brakrivier aan al die kriteria voldoen het om hierdie gesogte blouvlag te laat wapper. Dit beteken dat hierdie strandgebied, wat al sedert die vroeë 1930's dalk onbekend, maar gewild was, net al hoe meer besoekers lok om jaarliks hier te kom baljaar. Gekoppel met die mond van die Klein-Brakrivier, goue strandgebied en uitstekende visvanggebied, is hierdie area 'n moet vir elke vakansieganger om te kom swem, branders te ry, te sonbaai, vis te vang en gemaklik te stap op die gelyk strand.
'n Pluimpie aan ons Mosselbaai-munisipaliteit, wyksraadslede en belastingbetalersvereniging vir al die harde werk, moeite en energie wat hulle almal moes insit om hierdie groot mylpaal te kon bereik.
Met Klein-Brakrivier strandgebied wat hierdie feesseisoen blouvlagstatus geniet is almal dit eens dat dit 'n Desember gaan wees wat nie gou vergeet gaan word nie. Foto's: Jannie du Plessis
Elke oggend gaan die vlae gehys word om aan toeriste aan te dui die blouvlagstatus beteken die strand is 'n veilige strand en voldoen aan al die nasionale voorwaardes.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Brakrivier, Hessequa nuus'