HARTENBOS NUUS - Gesondheid in die latere lewensjare was die fokus van die VLV Hartenbos se Junie-samekoms.
VLV Hartenbos het by dié byeenkoms op 30 Junie vir Anette Rheeder, 'n verteenwoordiger van 'n besigheid wat natuurlike produkte verkoop, as gasspreker verwelkom.
Haar praatjie het gefokus op praktiese maniere waarop mense hul gesondheid en welstand in die latere lewensjare kan bevorder.
"Anette het beklemtoon dat gesonde leefstylgewoontes, gebalanseerde voeding, gereelde oefening en emosionele welstand die grondslag vorm van 'n goeie lewensgehalte. Sy het lede aangemoedig om verantwoordelik na hul gesondheid om te sien en elke lewensfase met 'n positiewe ingesteldheid te benader," sê die VLV-tak.
As deel van haar aanbieding het sy ook natuurlike ondersteuningsprodukte vir onder meer prostaatgesondheid, menopousale ondersteuning, emosionele welstand en gewrigsgesondheid bespreek.
Die VLV-lede het die praatjie met groot belangstelling gevolg en die praktiese wenke waardeer. Deelnemers het die geleentheid gehad om vrae te stel en ervarings te deel, wat lewendige bespreking uitgelok het.
"Die byeenkoms het weereens die VLV se fokus op persoonlike ontwikkeling, gesondheid en gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon en is in die gebruiklike gesellige atmosfeer met verversings en kuier afgesluit," sê die tak.
Skakel die voorsitter, Rolien Smit, by 084 621 2838 vir verdere navrae of indien jy belangstel om by die VLV Hartenbos aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’