Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - As jong kind het ons altyd gewens ons is grootmense en noudat ons ouer is, verlang ons na die sorgvrye kinderdae.
Marlene Prins, skoolhoof van Vlinderland-kleuterskool op Groot-Brakrivier het met Mossel Bay Advertiser gesels oor die uitdagings in haar bedryf, veral wat die afgelope twee jaar met die Covid-19-pandemie betref.
"Vir myself, personeel, ouers en selfs die kinders was dit 'n stresvolle tyd met die skooltjie wat moes toemaak tydens sekere van die inperkingsvlakke," vertel Prins. Kinders moes op die jong ouderdom leer van maskers dra en saniteer.
"Toe ons weer aan die gang kom was die getalle beperk en sonder kinders is dit finansieel 'n groot las op ons."
Die skool is 'n geregistreerde nie-winsgewende besigheid en ontvang slegs skoolgelde en fondse van die departement sosiale ontwikkeling.
VIDEO: Die vrolike vlindertjies van Vlinderland
"Ten spyte van die stresvolle tydperk het ons deurgedruk en tans sit ons met 160 vlindertjies, vyf onderwysers, vyf assistente en een kok/skoonmaker," vertel Prins. "Geld is maar steeds 'n probleem en enigiemand is welkom om donasies in enige vorm te skenk wat baie waardeer sal word," sê sy.
Die pragtige skooltjie se geboue word by die munisipaliteit gehuur en elke klas is 'n lus vir 'n kind se ogies. Die buite speelparkie is goed toegerus en wil jy as volwassene ook sommer net jonk raak en gaan speel.
'n Toegeruste kombuis en die kok sorg vir daardie nodige energie om die dagtake te verrig. Natuurlik word die meeste energie in die speelparkie gebruik.
Hulle kry ontbytpap, middagete en na 15:00 'n broodjie. Leerprogramme word gevolg en huisves kleuters van twee jaar oud tot graad R. Die skool-ure is van 06:45 - 16:00.
Vlinderland kleuterskool in Groot-Brakrivier. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'