GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier-polisie het 'n man (54) in hegtenis geneem nadat hulle alkohol wat hy vermoedelik onwettig vanuit 'n woning in Irisstraat, Wolwedans, verkoop het, gekonfiskeer het.
Lede van die stasie se Charlie-skof het op Sondag 25 Januarie inligting oor die drank ontvang en gaan ondersoek instel.
Daar aangekom het die skof sekere mense met drank by die woning sien uitloop, ingegaan en op 'n verskeidenheid daarvan afgekom.
Daar is op die volgende beslag gelê: agt kratte (96 bottels) 750 ml Black Label, een krat 750 ml Castle Milk Stout, een kas (21 bottels) Bonnibag-wyn (algemeen as 'rooiproppiewyn' bekend), een 5L doos 4th Street-witwyn en een doos rooiwyn.
Die man is vrygelaat en gewaarsku om op 24 Febuarie in die hof te verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’