MOSSELBAAI NUUS - Hy was deel van die eerste skof toe die KwaNonqaba-polisiestasie in 2004 geopen het, en nou, 22 jaar later, staan hy aan die hoof van sigbare polisiëring by dié stasie.
Kapt. Ebraim Kapp (Kappie) (51) is op 1 Oktober amptelik as vispol-hoof, soos dié pos algemeen bekendstaan, aangestel. Hy is terselfdertyd van adjudantoffisier tot kaptein bevorder.
Een van die dinge waarna hy die meeste in sy nuwe rol uitsien is om weer nou met die gemeenskap saam te werk, sê Kapp. Hy onthou nog sy heel eerste dag by KwaNonqaba. “Ek kan onthou dit was ’n Sondag, en die gemeenskap was opgewonde. In 2004 het ek as skoflid gewerk. Later, in 2006, was ek deel van misdaadvoorkoming, en het ek ook by opleiding betrokke geraak. Ek het deurentyd met sosiale misdaad, die gemeenskap en die GPF gewerk.”
Die gemeenskap van Mosselbaai sal Kapp se naam ook uit talle mediaberigte herken. In 2014 het hy by kommunikasie betrokke geraak, en sedertdien was hy ’n belangrike skakel tussen die media en die polisie - nie net by KwaNonqaba nie, maar ook, waar nodig, by ander polisiestasies.
“Met my toetrede tot hierdie nuwe rol dink ek my noue verhouding met die media is iets wat ek die meeste sal mis.”
Die Mossel Bay Advertiser-span wens Kapp hartlik geluk met sy bevordering en is opreg dankbaar vir die vertrouensverhouding wat hy tussen die koerant en die polisie help bou het. “Kaptein, baie sterkte met die pad wat voorlê. Ons sal jou as woordvoerder mis, maar hierdie is inderdaad ’n welverdiende bevordering.”
Wyk 11 se raadslid, Nickey le Roux, het Kapp ook met sy nuwe pos gelukgewens. Dié wyk val binne die KwaNonqaba-polisiëringsgebied.
“Die vispol-hoof is die offisier wat direk verantwoordelik is om te verseker dat die polisie sigbaar, responsief en aktief by misdaadvoorkoming betrokke is.
“Hierdie funksie speel ’n sleutelrol in die bevordering van openbare veiligheid, die versterking van gemeenskapsvertroue en die koördinering van voorsteliniepolisiëringsaktiwiteite,” sê Le Roux.
Volgens haar plaas Kapp se ervaring, plaaslike kennis en verbintenis tot openbare diens hom in ’n uitstekende posisie om sigbare polisiëring te lei.
Kapp sê die grootste uitdaging in sy nuwe rol sal wees om die verhouding en vertrouensband tussen die polisie en die gemeenskap verder te versterk - ’n uitdaging wat hy met graagte aanpak. “Veiligheid verg ’n holistiese benadering. Ons moedig die gemeenskap aan om saam met die polisie te werk om ons te help om veiligheid te verseker.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’