MOSSELBAAI NUUS - Wetstoepassing in Mosselbaai gaan uitgebrei word om 'n diens 24 uur, sewe dae van die week aan die gemeenskap te lewer.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal berig dat veiligheid van meet af aan 'n prioriteit vir sy raad was, maar dat befondsing uitbreidings gekniehalter het.
Toe daar met die hersiening van die munisipale struktuur begin is, is voorsiening gemaak vir 'n vierde skof sodat die ure in die toekoms aangepas kan word om 24 uur per dag diens te kan lewer.
Hierdie struktuur is deur die raad aanvaar en daar kon dus in die huidige boekjaar reeds ekstra poste gevul word met die oog op implementering. 'n Vierde toesighouer is aangestel en die gesprekke met die beamptes en unieverteenwoordigers is gefinaliseer tydens die plaaslike arbeidsforumvergadering wat op 18 April gehou is.
Daar sal dus vanaf Werkersdag, 1 Mei 'n 24 uur per dag gemeenskapsveiligheidsdiens, wat uitgebreide dienslewering deur beide verkeersbeamptes en wetstoepassingsbeamptes impliseer, gelewer word.
Beamptes verbonde aan gemeenskapsveiligheid en wetstoepassers van munisipale verordeninge sal voorts 12 uur skofte werk, anders as die diens wat tans net tot 24:00 snags gelewer is.
Geskikte kandidate
"Die verbeterde dienslewering het 'n begrotingsimplikasie vir die raad, deurgaans word geslaag om die salarisrekening van die munisipaliteit tot sowat 30% van die begroting te beperk," berig raadsheer Levendal.
Hy sê die werwing van geskikte personeel as wetstoepassers is 'n uitdaging, veral aangesien die kandidate se integriteit bo alle twyfel moet wees. Geen kandidaat mag dus 'n kriminele rekord hê nie.
"Wetstoepassing is 'n spesialisveld. Geskikte kandidate moet intensiewe opleiding ontvang. Gesprekke vorder om straks dié opleiding ook eersdaags in Mosselbaai aan te bied. Wetstoepassers word dikwels omkoopgeld aangebied om oortredings oor te sien. Dus is nie net kwalifikasies nie, maar die karakter van kandidate baie belangrik.
"Dit is verblydend dat die huidige wetstoepassers die inisatief geneem het om self 'n 24 uur, sewe dae per week werksindeling te versoek. Hulle inkoop bewys ook hul diensingesteldheid," sê die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
Beheersentrum
'n Verdere uitdagings vir munisipale wetstoepassing en rampbestuursdienste is 'n gesamentlike beheersentrum waar integrale kontrole en koördinering kan plaasvind. Die ideaal is om hierdie funksie by die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste te setel met toegang onder meer aan geakkrediteerde lede van die gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte.
"Uiteindelik is veiligheid nie 'n munisipale funksie nie, maar die raad kan nie apaties staan teenoor die behoefte aan beter beveiliging van die gemeenskap nie. Daarom het hierdie raad reeds verskeie raadsbesluite geneem om beveiliging te verbeter, onder meer om perde en viertrekvoertuigpatrollies ook op strande toe te laat, om toe te laat dat kameras op sommige lamppale aangebring word terwyl die raad die elektrisiteitsrekening daarvoor dra, en om toerusting vir verbeterde kommunikasie tussen buurtwagte en ander wetstoepassingsinstansies op munisipale eiendom toe te laat.
"Die inisiatief deur die munisipaliteit se eie gemeenskapsveiligheidsdienste word verwelkom om Mosselbaai veiliger vir almal te maak. Verdere inisiatiewe om uiteindelik die voertuie wat deur wetstoepassers van munisipale verordeninge gebruik word gepas te merk, sal ook hul sigbaarheid verhoog en beter dienslewering tot gevolg hê."
Verkeersbeamptes Robert Jansen, Tollie Graaff en, heel regs, Johannes Gerber besig met 'n padblokkade op Georgeweg in Mosselbaai. Foto: Dave van der Merwe
Voorstaandienste deur verkeersbeamptes en wetstoepassingsbeamptes verseker nie net padveiligheid nie, maar 'n veiliger omgewing in die algemeen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'