MOSSELBAAI NUUS - Icosa se nasionale woordvoerder, Dawid Kamfer, vra vir 'n ondersoek na die besluit van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schafer, om die voedingskema by skole vandeesweek voort te sit.
Kamfer het Donderdag 'n navraag vir ‘n ondersoek by die polisie in Mosselbaai ingedien. "Ons wil hê hulle moet kyk of die minister die wet oortree het," het hy gesê. "Dit is net die Wes-Kaap wat die voedingskema nou volg, en nêrens was daar 'n aankondiging oor 'n aanpassing van die wet nie."
Kamfer verwag komende Dinsdag terugvoer van die polisie. Hy is ook van voorneme om 'n skrywe aan die nasionale minster van onderwys, Angie Motshekga, en president Cyril Ramaphosa te rig.
Die voedingskema by skole is Dinsdag op versoek van Schafer hervat om behoeftige kinders en ouers tydens hierdie tydperk van algehele sluiting, of grendeltyd, by te staan.
Kamfer het Maandag gesê dit gaan meebring dat kinders "met 'n verskoning" op strate rondlê en sodoende weerlose gemeenskappe se kanse op Covid-19 besmetting vergroot.
In 'n skrywe aan Kamfer, het Shafer gevra vir sy ondersteuning in 'n moeilike tyd. Sy het baie klagtes van mense ontvang van kinders wat honger ly, omdat hulle nie meer kos by die skole ontvang nie. Sy het Kamfer verseker dit is nie die "gewone" voedingskema nie.
"Dit sal goed bestuur moet word sodat mense 'social distancing' praktiseer, sodat die kinders en die mense wat die kos maak, veilig kan wees. Ons sal die kinders vra om hulle eie blikkies saam te neem, sodat hulle die kos huis toe kan neem. Ons het gesprekke met die polisie gehou vir addisionele veiligheid. Daar sal min onderwysers betrokke wees, maar die skoolhoof moet die reëlings tref. Natuurlik sal alles gedoen word om al die betrokke mense veilig te hou," het sy gesê.
"In hierdie baie moeilike tyd, is dit belangrik dat elkeen van ons ons deel doen om deur die krisis te kom. Dit sal wel ’n wonderlike idee wees as u organisasie help om die reëlings vlot te laat verloop, en miskien help om die kinders veilig te hou. Die nood is groot, en ons doen ons bes om te help waar dit nodig is," het Shafer gesê.
Verdere kommer
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), 'n vakbond vir onderwysers, deel Kamfer se kommer. In 'n mediaverklaring wat Dinsdag uitgereik is, word die voedingskema as 'n ondermyning van die president se pogings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, bestempel.
Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, het ook Woensdag haar kommer in 'n mediaverklaring gelug en gesê sy is bekommerd oor berigte oor die voortsetting van die nasionale voedingskema by skole. Sy het gesê dat sy ook oproepe van die publiek ontvang het wat hul kommer hieroor uitspreek.
Mbinqo-Gigaba het gesê sy gaan 'n versoek aan die nasionale minster van onderwys, Angie Motshekga, rig vir verdere inligting oor hierdie afwyking van die ooreengekome Covid-19 plan, rakende die voedingskema. "Ons kan nie vir mense sê om veilig tuis te bly, en hulle terselfdertyd aanmoedig om kos by die skool te gaan haal nie," het Mbinqo-Gigaba gesê.
Kinders loop rond
Kamfer het gesê dit is reeds moeilik om volwassenes te patroleer wat steeds op die strate rondloop. “Nou gaan kinders in hul hordes op straat rondloop - met 'n verskoning,” het hy gesê. “Donderdag loop ek in een van die woonbuurte rond waar 'n skooltjie is, en ek vra vir die kinders: 'Wat doen julle hier?' Hulle sê vir my: 'Nee, ons wag vir die kos by die skool.' Ek sê vir hulle: 'Maar dan moet julle mos daar wees?' Die kinders loop maklik 'n halfuur na die skool, en speel op pad soontoe. Daar is nou meer kinders op straat as voor die afkondiging van die voedingskema."
Volgens Kamfer is Icosa nie teen die feit dat die kinders kos ontvang nie, maar die manier waarop dit nou geskied is nie korrek nie, het hy gesê. "Hulle kan die kos by die huise aflaai, daar sal minder kontak wees. Die skool is gesluit, niemand is veronderstel om by die skool te wees nie. Daar was nooit 'n wysinging op die wet wat die minister [Shafer] toestemming gee om kinders na die skool te stuur vir kos nie. Ouers en onderwsers word blootgestel aan boetes en tronkstraf. Niemand is veronderstel om op die straat te wees nie."
Daar is tans 17 Covid-19 gevalle in Mosselbaai. "Ons weet nie wie die mense is nie; soveel mense kan aansteek. Op die ou end het ons 'n ramp wat niemand kan keer nie," het Kamfer gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'