MOSSELBAAI NUUS - Eienaars van besighede geleë op die "ou" pad tussen Hartenbos en Klein-Brakrivier sê dat die tempo waarteen padwerke tans daar plaasvind, hul eersdaags sal dwing om hul deure te sluit.
"Dit is 'n nagmerrie," sê Hynn Munro van die gewilde Munro's Kafee in Eerste Laan, Klein-Brakrivier.
"Tydens die openbare deelnameproses is ons die versekering gegee dat die padwerke by die gedeelte tussen Hartenbos en Klein Brak vanaf 31 Maart tot 3 Oktober 2018 sal duur. Dit is reeds middel November en die padwerke is nog glad nie klaar nie."
Munro sê hy kan nie meer sy werknemers bekostig nie omdat sy besigheid drastiese verliese ly sedert die padwerke begin het. "Hoeveel miljoene rand word hier vermors? Soms sit daar tot agt werkers onder 'n boom en hulle kom kort-kort na die kafee toe.
"Die pad voor my besigheid is al opgekap, opgevul en 'n paar weke later het hulle weer al die materiaal kom oplig en dit wéér toegegooi. Mense besoek nie meer die kafee nie omdat hulle nie vir die stop-en-ry kans sien nie. Werk aan die gebied voor die kafee waar aanvanklik gewerk is, staan weer doodstil."
Desember wink
Munro sê soms word daar aan die Klein-Brakrivierbrug duskant die kafee gewerk en soms weer nie. "Dit is mos nie hoe jy 'n projek aanpak nie. Jy begin met 'n gedeelte en maak dit klaar maar hierdie mense pik hier en pik daar. Dit lyk ook glad nie of die pad teen Desember voltooi gaan wees nie."
Murno sê Desember is sy skeptyd. 'n Ingenieur betrokke by die opgradering van die pad het na bewering vir hom gesê dat daar nie 'n kans is dat die pad voor die vakansieseisoen voltooi sal wees nie. "Die komp Gautengers gaan nie dié onsin opvreet nie. Ek het nou die dag vir 45 minute by die stop-en-ry gewag en daar het nie eens een voertuig verbygekom nie!"
Munro sê hy het sedertdien 90% van sy besigheid ingeboet. "Dit gaan goedkoper wees om my besigheid se deure toe te maak en my arbeiders af te lê. Jy moet sien hoe dit hier lyk as die wind net 'n bietjie waai, alles is vol stof. My punt is; hier word nie gewerk nie. Soms gebeur daar vir dae niks nie."
Munro sê hy kan nie meer sy werknemers bekostig nie omdat sy besigheid drastiese verliese ly sedert die padwerke begin het.
Kwekery ly verliese
Die eienaar van Swan's Kwekery naby Monte Christo, Charlie Swanepoel sê die kwekery beleef sy slegste tyd in 12 jaar. "Ek kan net sowel my deure sluit. Hier is groot skade gedoen. Ek het al briewe geskryf maar daar kom niks van nie en daar is vir ons die versekering gegee dat die padwerke teen 3 Oktober klaar sou wees."
Swanepoel sê elke dag is 'n nagmerrie. "Die mense wat die stop-en-ry beheer, laat ons kliënte 'n ompad ry en ons ly verliese. As ek kyk na die tempo wat die brug oor Klein Brak opgradeer word, gaan dit nog ten minste twee jaar duur. Ons is die onderneming gegee dat ons teen 3 Oktober soos gewoonweg sal kan aangaan. Niks wat aan ons belowe is, het gerealiseer nie."
Dié kennisgewing wat op die Munro's Kafee se deur geplak is dui duidelik aan dat die padwerke teen 3 Oktober voltooi sou wees.
'Ongerief onvermydelik'
Volgens Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, is geen afdelings van die padwerke reeds voltooi nie.
"Daar word aan sewe gebiede gewerk. Die gedeelte tussen Monte Christo en die Klein-Brakrivier brug sal teen 14 Desember 2018 vir verkeer oop wees. Daar sal wel nog werk in die gebied plaasvind in 2019, maar verkeer sal nie daardeur beïnvloed word nie."
Volgens La Hoe sal die gedeelte by Riverside ook teen 14 Desember voltooi wees. La Hoe sê die departement is bewus van die frustrasies, maar "sekere ongerief tydens opgradering is onvermydelik."
Hynn Munro staan in die pad waar daar nog aan gewerk moet word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'