MOSSELBAAI NUUS - 'n Opoffering is dit vir seker om as ander mense in die branders baljaar, seker te maak dat hulle dit doen sonder om hulleself in doodsgevaar te stel.
Dit is wat lewensredders seisoen na seisoen doen en vanjaar, volgens alle aanduidings, was die strande besonder besig gedurende die Desembervakansie.
Na raming het 985 005 strandgangers tussen 27 Desember en 2 Januarie die gewildste strande besoek. Boonop is behandeling gegee aan strandgangers wat snye, skraapwonde en beenbreuke opgedoen het. Bloublasies was ook 'n sondebok wat veroorsaak het dat bykans 800 mense hiervoor behandeling moes ontvang.
Oud-Mosselbaaier, Megan Robertson, 'n kranige seilvaarder, voormalige hoofmeisie van Curro Mosselbaai, asook voormalige junior stadraadslid van Mosselbaai, was weer eens onder die seisoen se lewensredders en is benoem as lewensredder van die jaar. Sy is verbonde aan die Mossel Bay Surf and Lifesaving Club.
Tracey Reinecke van die klub het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat Megan veral haar staal gewys het op Nuwejaarsdag, wat haar 'n top kandidaat vir die toekenning gemaak het.
"Daar was ongeveer 9 000 mense op die strand gewees. Vanweë die baie sleurstrome is slegs vier swemplekke oopgemaak. Van die lewensredders het op die dag nie vir diens opgedaag nie. Megan het doodeenvouding beheer van 'n moeilike situasie geneem en dit met uitnemendheid gedoen. Teen 11:00 die oggend het Megan my gebel se gesê dat die app op haar foon wys sy het al 25 000 treë gegee. Sy't gewerk dat dit klap daardie dag," vertel Tracey.
Sy voeg by dat Megan se span wat onder haar werk ook, dit doen met 'n mooi en opgeruimde gesindheid.
Megan swot tans aan die Universiteit Stellenbosch en dit is die vierde jaar wat sy as lewensredder diens doen. Volgens 'n senior lewensredder en groepleier, JD Nel wat Megan al jarelank ken, verdien sy die toekenning deur en deur.
"Megan is baie ferm en voer haar werk baie deeglik uit. Sy is ook 'n groepleier en haar span het baie respek vir haar."
JD is vanjaar in sy agtste jaar van lewensredding.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'