MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers en besoekers aan die dorp was dit eens, munisipale dienslewering oor die feestyd was, soos altyd, uitmuntend.
Wat verskeie lesers op sosiale media veral beïndruk het, was die feit dat vullisverwydering oor die feestyd flink en selfs tot laat in die nag gedoen is, ongeag die talle vakansiedae en die feit dat munisipale werkers ook tyd met hul families sou wou deurbring.
Omdat PetroSA se stortingsterrein op 25 Desember en 1 Januarie gesluit was, moes die munisipaliteit die daaropvolgende Dinsdae, die vorige Maandag én Dinsdag se vullis verwyder.
Op 26 Desember het die spanne tot na 21:00 gewerk en op 2 Januarie tot na 22:00. Op 26 Desember het PetroSA die stortingsterrein reeds om 14:00 toegemaak en di munisipaliteit het alle vullisverwyderingswaens op die laaste gaan leegmaak en toe verwyder totdat al die trokke, spaar kompakteerders ingesluit, vol was.
Selfs die siftrokke is gebruik om swart sakke op te laai waar moontlik. Ongelukkig het so 'n paar strate oorgestaan, want daar was net nie meer stoorplek nie. Op 2 Januarie het PetroSA spesiaal die aand weer die stortingsterrein gaan oopsluit.
Daar was baie meer vullis op 2 Januarie as op 26 Desember.
Hierbenewens het die spanne elke dag langer as normale ure gewerk.
"Hulle het hard gewerk en ons wil hulle graag 'n klop op die skouer gee en bedank vir al die harde werk," aldis die direkteur van gemeenskapsake, mevrou Elize Nel.
Deurgaans is die dorp en die Mosselbaai-munisipaliteit op sosiale media gekomplimenteer met die netheid en ordelike voorkoms van die dorp, selfs die verkeersdrukte op Louis Fourieweg is lankmoedig verduur juis omdat die ekstra verkeersreguleerders ook hul deel bygedra het om die verkeersvloei te vergemaklik.
Mosselbaai munisipaliteit se trots - hierdie personeel het ver meer gedoen as wat normaalweg van hulle verwag kon word deur tot laat in die nag vullis te verwyder sodat die dorp skoon en net kon vertoon oor die feestyd.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'