MOSSELBAAI NUUS - Solidariteit Helpende Hand se takke in Mosselbaai en Hartenbos het dié week skenkings van wildsvleis ontvang wat gebruik word om gesonde etes vir kleuters en bejaardes in die omgewing te verskaf.
Volgens Marlise Labuschagne van Helpende Hand maak die huidige finansiële krisis dit vir hulle moeilik om een keer 'n dag 'n gebalanseerde ete aan bejaardes en kinders te verskaf.
Sy sê die tehuise en naskool-sorgsentrums kry baie swaar. "Ons is baie dankbaar vir die HelpJag inisiatief wat die behoefte aanspreek, maar ons benodig nog vleis om ons yskaste vol te hou vir die res van die jaar."
"HelpJag Wes-Kaap se jagters ondersteun die behoefte en doen 'n beroep op ander jagters om ook betrokke te raak by die inisiatief".
Itha Brummer, Helpende Hand, Mosselbaai, help om die pakke wildsvleis van HelpJag te versprei.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'