MOSSELBAAI NUUS - Die Breathe vroue-aande, elke eerste Dinsdag van die maand in die Dias-museum, het vinnig een van die hoogtepunte van menige vroue in en om Mosselbaai geword.
"Hier vind ons as eensgesinde vroue daardie broodnodige tyd om net te 'wees' en uit te reik na mekaar. Ons kuier rondom 'n koppie koffie en dan natuurlik, leer ons met elke byeenkoms, iets nuuts en opbouend by mekaar, want elkeen van ons het 'n unieke en besondere storie om te vertel," sê Erika Beetge van Breathe.
Augustus was geen uitsondering nie en het alle verwagtinge oortref.
Die bekende en beminde, Stefanie Minnaar, het die vroue met haar borrelende, aansteeklike persoonlikheid en aanbieding prakties herinner hoe om met liefde en verwondering na hulself te kyk.
Met klanke van vroue wat mekaar high-5, luide gelag en koffie koppies wat klingel, is die Dias-museum gevul met 'n formidabele span vroue wat bereid is om saam op te staan en hulself met sagtheid en liefde te aanvaar sodat elkeeen 'n verskil kan maak in die mooie Mosselbaai-omgewing.
Mari Lotz het 'n liedjie spesiaal vir die aand en tema geskryf en heel gepas daarmee afgesluit.
"Ons nooi almal uit wat nog nie 'n byeenkoms bygewoon het nie om saam te kom kuier. September kom bederf die Coffee Snobs ons met 'n optrede en die museum is 'n besonderse plek om hulle te hoor sing. Kontak 060 813 3049 vir enige navrae."
Stefanie Minnaar het die vroue daaraan herinner hoe om met liefde en verwondering na hulself te kyk.
Mari Lotz het ‘n liedjie spesiaal vir die aand en tema geskryf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'