MOSSELBAAI NUUS - Die Broodknippieprojek vir rolstoele het vir baie jare 'n groot impak binne die Mosselbaaise gemeenskap gemaak, veral in die lewens van gestremde persone.
Lede van die publiek lewer steeds hulle bydrae hiertoe deur broodknippies en bottelproppies in te samel wat by versamelpunte af te laai.
"Henque Waste, as amptelike herwinnaar vir die Mosselbaai-munisipaliteit, wil graag ons sosiale en maatskaplike verantwoordelikheid in die area vergroot deur in die behoeftes van gestremde persone te voorsien," berig Stephan Lampbrecht van Henque Waste. Hy brei uit dat hulle tydens die Rolstoelprojek bewus geraak het van behoeftes waarby hulle graag die gemeenskap wil betrek. Hierdie voorgenome projek word in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit aangebied.
Henque Waste onderneem om R1 per kilogram te betaal vir alle bottelproppies en broodsakknippies van plastiek wat die gemeenskap insamel.
Geld sal na 'n sentrale fonds betaal word wat slegs ten doel het om gestremdes se behoeftes aan te speek. Henque Waste sal R1 per kilogram vir plastiekdoppies, wat deur hul eie herwinningsprogram binne die groter Mosselbaai ingesamel word, ook tot die fonds betaal.
Alma Kritzinger van die Mosselbaai-munisipaliteit verduidelik dat die behoeftes binne elke gemeenskap uniek is.
"Die projek bied vir elke wyk die geleentheid om behoeftes in hul area te lys, waarvoor hul gemeenskap dan 'n insameling kan begin om fondse daarvoor te genereer. Die projek fokus nie net op rolstoele nie, maar op alle behoeftes van gestremdes soos krukke, looprame, spesiale handvatsels, krane, toegangsopritte en dies meer.
Stephan Lamprecht verduidelik dat die simboliek agter die projek se kenteken daarop wys dat 'n mens se hand kan skeppend, maar dat dieselfde hand kan ook vernietigend kan wees.
"Met die projek wil ons vra dat ons gemeenskap van Mosselbaai sal kies om skeppend te wees en iets moois te begin wat impak sal hê. Ons daag wyksraadslede en wykskomitees uit om behoeftes binne die verskillende wyke te identifiseer. Terselfdertyd moet wyke ook aandui hoe hulle graag die nodige doppies en knippies gaan insamel."
Sodra genoesame fondse ingesamel is vir 'n spesifieke behoefte binne 'n wyk, sal die nodige reëlings vir die oorhandiging van toerusting of aanbring van infrastruktuur getref word.
"Indien 'n wyk nie self behoeftes kan identifiseer nie, kan hulle self besluit waar hulle skenkings aangewend mag word. Ons vra ook dat indien daar persone is wat soortgelyke projekte bestuur, of hierby betrokke wil raak, hulle met ons in verbinding sal tree. Ons daag ook die besigheidsektor uit om materiaal, soos wat benodig mag word om toegangsopritte en dies meer te bou, te skenk."
Kontak gerus vir Stephan Lamprecht (071 626 6249 of stephan@henquewaste.co.za of Alma Kritzinger by 079 691 7708 of akritzinger@mosselbay.gov.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'