TUINROETE NUUS - Dit woel en werskaf tans in kiwiboorde in die Suid-Kaap waar oestyd van laat Februarie tot einde April duur, afhangende van die variëteit.
Die tonnemaat in die streek het geweldig toegeneem soos nuwe rolspelers toegetree het tot die relatief jong bedryf, wat ongeveer sewe jaar gelede sy beslag in die Suid-Kaap gevind het.
Volgens Roelof du Toit, tegniese direkteur van The Kiwi Connection, ontvang hulle ongeveer 80% van die oeste afkomstig van George, Waboomskraal, die Langkloof en Tsitsikamma vir uitvoere - meestal na Europa. Dit is gelykstaande aan tussen 400 en 500 ton. Daar is 'n geskatte 50 hektaar onder kiwiboorde in die streek.
"George en Waboomskraal se klimaat is uiters geskik vir geel- en rooikiwivrugte. Ons kry baie goeie resultate met ons uitvoere.
"Die Suid-Kaap, soos ook Grabouw, lewer van die beste gehalte kiwivrugte in die land. Daar is 'n groot markgeleentheid vir veral Suid-Afrikaanse rooikiwivrugte, want hulle kom op die mark voordat die Nieu-Seelandse oeste inkom.
"Suid-Afrika is tans een van die min lande wat dit regkry om goeie kwaliteit rooikiwi's te produseer," sê Du Toit.
Daar is ook kiwiprodusente in onder meer Natal, Witrivier en Rawsonville.
Veral Waboomskraal met sy redelik matige somers en baie koue winters is die ideale ligging.
Gerhard Pretorius, bestuurder van die De Vos-landgoed in Waboomskraal, 'n toonaangewende produsent, is opgewonde oor die kwaliteit van vrugte en die groei in tonnemaat. Hulle het 6,5 hektaar onder geel- en rooikiwivrugte.
Die De Vos-Landgoed het ’n goeie oes gehad. Thomas Oosthuizen (links) en Samuel Salmans is twee van die werkers wat help pluk het.
"Ons produksie het eksponensieel toegeneem sedert die boord sewe jaar gelede aangelê is. Dit is vanjaar ons vierde kommersiële oes en ons het 40 ton per hektaar afgehaal, vergeleke met 8 ton in die eerste kommersiële oes."
Toe kiwiverbouing aanvanklik in die streek ingebring is, was daar baie proeflopies met 'n klomp verskillende kultivars.
"Aan die begin het die ouens maar verkeerd geplant en is daar baie skoolgeld betaal. Vandag is daar 13 suksesvolle kiwiprodusente in die Suid-Kaap en word jaarliks werk geskep vir ongeveer 500 mense, wat wissel tussen permanente en seisoenale werkers."
Daar word hoofsaaklik geel kiwi's verbou, onder andere Dori, Soreli, Jingold en Sandveld, maar ook nuwe rooi variëteite. Baie tyd en energie word ingesit om altyd beter variëteite te kweek.
Pretorius sê kiwivrugte is 'n gewas wat dwarsdeur die jaar intensiewe sorg en aandag vereis. Aanvanklike insetkoste is ook hoog, want nette en rankstrukture moet opgerig word.
Bemesting, snoeiwerk deur die jaar en uitdun van blomme in die Lente is deel van die deurlopende versorging. Vir bestuiwing word bye ingebring, maar daar word ook met die hand bestuif.
"Ons is baie opgewonde oor die bedryf noudat ons sien kiwivrugte aard baie goed in die Suid-Kaap en produksie is besig om op te tel. Daar is vir seker geleentheid vir uitbreiding."
Nolene Rabie (links) en Dorothy Galant by die houers waarin die kiwi's met ’n trekker uit die boord vervoer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’