Wat van 'n verkeerslig?

Anoniem skryf:

Dit kom uit frustrasie en bekommernis rakende die kruising by Hartenbos Heuwels, die Klein-Brak-pad en die Oudtshoorn-pad.

Ons bly reg op die hoek van daardie kruising, en die hoeveelheid ongelukke wat daar plaasvind is regtig kommerwekkend.

Ek is nie seker of dit onder provinsiaal of munisipaal val nie, maar sover ons kan agterkom vat niemand verantwoordelikheid vir daardie stuk pad nie. Die kruising is al vir jare 'n probleem en gevaarlik, maar alle klagtes, versoeke, voorstelle en petisies val op dowe ore.

Maar wat definitief volgens my en vele ander die beste oplossing sal wees, is 'n verkeerslig. Maar niemand gee 'n duidelike antwoord of verduideliking oor hoekom dit nie kan gebeur nie.

Daar is so pas twee nuwe verkeersligte op die ou Klein-Brak-pad vir die nuwe mall oorkant Monte Christo opgerig. Maar dit affekteer nie ons kruising of maak dit makliker of veiliger om oor te steek nie.

Die Mosselbaai-munisipaliteit antwoord:

Die betrokke pad ressorteer onder beheer van die Provinsiale Padingenieur, Oudtshoorn. Die munisipaliteit het egter verneem dat goedkeuring verleen is vir die oprigting van verkeersligte. In afwagting op die installering sal tydelike puntdienste verrig word.